Simon Magakwe het Saterdag in Pretoria tydens die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap die eerste Suid-Afrikaner geword wat die 100 meter binne 10 sekondes voltooi het.
Die skare by die Tuks-stadion het gejuig toe hy die eindstreep binne 9.99 sekondes gehaal het. Magakwe was reeds halfpad met sy oorwinningsronde toe die amptelike tyd as 9.98 sekondes aangekondig is.
“Ek was van die begin af aggressief,” het Magakwe gesê. “Ek wou dit so graag hê. Ek het myself die laaste 30 meter baie hard gedruk.”
Magakwe se afrigter, Eugene Thipe, is ook van Suid-Afrika. “Alles wat ons doen, doen ons in Suid-Afrika” het hy gesê.
Magakwe het tot Saterdag nog die rekord van 10.06 sekondes met Johan Rossouw gedeel.
“Ek wil my naam in die rekordboeke verewig deur die eerste Suid-Afrikaanse man te word wat deur 10 sekondes breek,” het Magakwe in 2012 gesê toe hy Rossouw se rekord geëwenaar het.
Akani Simbine het die resies binne 10.02 sekondes voltooi, en dus ook die vorige rekord verbreek. Emile Erasmus was derde met 10.23 sekondes.
Wayde van Niekerk het ook die eerste Suid-Afrikaner geword wat Saterdag die 400 meter binne 45 sekondes voltooi het. Hy het die afstand binne 44.92 sekondes afgelê voor Shaun de Jager (45.82 sekondes) en Willie de Beer (46.38 sekondes). -SAPA
Baie geluk! Doen so voort!
Baie geluk ! Hopelik sal daar nou meer tyd en geld aan S.A. Atletiek spandeer word.