Sardyne meer gewild as hoender

Foto ter illustrasie (Foto: Dr. Ryan Daly)

Ingemaakte sardyne en pelsers (ook bekend as pilchards), eerder as hoendervleis, is toenemend Suid-Afrika se voorkeur proteïen. Die rede is stygende lewenskoste en die uitwerking van beurtkrag op mense se vermoë om bederfbare kos te stoor.

Dit is een van die bevindings in die moniteringsverslag van pryse van noodsaaklike voedsel wat onlangs bekend gestel is.

Geblikte sardyne se hernieude gewildheid word weerspieël in die verkoopsyfers van Oceana (eienaar van Lucky Star) en Premier Fishing. Die verslag toon verkoopsvolumes het met 9% toegeneem in plaaslike en uitvoermarkte, van 8,8 miljoen kartonne in die 2022-boekjaar tot 9,6 miljoen in die 2023-boekjaar. Premier se verkope van pelsers het met 59% gegroei, van 1 174 ton in 2021 tot 1 866 ton in 2022. Ingemaakte pelsers is wel nie die goedkoopste bron van proteïen nie. Dié vis het in Desember R1,12 per gram gekos en is steeds duurder as droëbone, teen 32 sent per proteïengram. Eiers volg ná bone, teen 48 sent per proteïengram en apart gevriesde porsies hoender teen 91 sent per proteïengram.

Nog een van die handelsmerke wat geraak word. (Foto: Spar)

Die toename in die gewildheid van geblikte sardyne blyk gegrond te wees op ʼn kombinasie redes, en nie slegs die prys of rangorde van spesifieke proteïen nie, lui die verslag. Geblikte sardyne word in kleiner hoeveelhede gekoop (normaalweg 400 gram en minder) wat verbruikers redelike beweegbaarheid gee wat hul aankooppatrone betref. Dié blikkiesvis kan ook maklik bo-op mekaar geberg word en hoef nie koel gehou te word nie. Dit is beskikbaar in verskillende geure sonder ekstra uitgawes aan geurmiddels. Daar word nie BTW op ingemaakte pelsers gehef nie, wat daartoe bydra dat die produk bekostigbaar bly.

Beesvleis, teen R2,81 per proteïengram, is die duurste bron van proteïene. Inflasie het verskeie invloede op die prys van proteïenbronne in 2023 gehad. Luidens die verslag is dit nie verbasend nie, in ag genome die koste betrokke in die produsering van die produkte en tot ʼn mate die aanvraag daarvoor.

Afgesien van eiers, waarvan die pryse geraak is deur die uitbreking van voëlgriep, was inflasie op proteïenbronne beskeie en bly dié veelsydige proteïen kostegewys die tweede beste opsie.

Soos die produsenteprys is die gemiddelde kleinhandelprys vir ingemaakte vis nie besonder wisselvallig nie. Dit stem ooreen met vorige navorsing wat bevind het dat asimmetriese prysoordrag, waar pryse vinnig styg en stadig daal, die laagste is vir nie-bederfbare voedsel.

In 2021 het die gemiddelde kleinhandelprys van ingemaakte vis met 2,8% gestyg, gevolg deur 9,9% in 2022 en 2,3% in 2023. Gemiddelde produsentepryse het met 1,1% in 2021 gestyg, 22,9% in 2022 en 2,6% in 2023.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

piet ·

Die prys van geblikte pelsers (moet se dis die eerste keer wat ek die woord sien) is hopeloos te hoog as jy in gedagte hou dat die vissies in hul dermiljoene in nette gevang word. Dis amper so duur soos hoender.

Daisy ·

Ek sal eerder honger bly of gras eet, of groente uit my tuin uit as daai blik goed

annie ·

Vis is baie duur in SA veral as mens in ag neem dat ons aan weerskante van die land met see omring is. Oosterlinge eet feitlik daagliks vis. Jodium- en omega-tekorte kom by baie binnelanders voor. Ons mense eet geblikte vis as die nood druk want vars vis is net vir rykes en ‘n luukse gereken. Wie maak geld uit ons visbronne? Ons regering is min gespin.

Raakvatter ·

Soos die ekonomie maar werk, as die vraag styg, styg die prys. En binnekort is hierdie bron van proteien ook duurder.

Manie ·

Vis in al sy vorme is aansienlik duurder as vleis en kan nie werklik in grootmaat soos skaap, bees, vark of hoender gekoop en gevries word nie, want na ‘n maand of 2 het dit nie meer smaak nie. Jy koop ‘n heel vis waarvan jy net die filette kan gebruik teen meer as R250.00 per kg teenoor bv skaap se R105.00 per kg. Nee wat, vis is al lankal uit my dieët.

JohanR ·

Dit moet verskyn op ANC verkiesings plakkers…..eat sardines and not chicken!

Bolandse Nooi ·

Ek wens net vervaardigers van ingemaakte “pelsers” wil daaraan dink om ‘n produk te vervaardig wat NIE in tamatie- of chilli-sous ingemaak is nie, bv. iets wat in groenteolie of soutwater (soos met tuna) ingemaak word. Ek is regtig lief vir “pelsers” maar daardie TAMATIESOUS is my een te veel … en ek eet niks wat sterk is nie.

piet ·

Bolandse Nooi – Ek koop die maalvleis-tipe deesdae. So jy het nie daai sous by nie en jy kan dit na smaak geur en vir meer resepte gebruik. Dis ook goedkoper.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.