SAUK distansieer hom van omstrede mediaregulasie-stelling

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Die SAUK het hom Woensdag gedistansieer van Hlaudi Motsoeneng, sy bedryfshoof, se omstrede uitlating dat joernaliste gereguleer moet word.

Die openbare uitsaaier het Motsoeneng se standpunt as een in sy hoedanigheid as “Suid-Afrikaanse burger” bestempel en gesê dat dit nie noodwendig die amptelike uitspraak van die SAUK is nie. Die SAUK het hierdie stelling in ’n verklaring gemaak waarmee hy Gavin Davis, DA-LP, gekritiseer het vir sy stelling dat Frans Matlala, uitvoerende hoof van die SAUK, Motsoeneng moet berispe.

“Mnr. Motsoeneng is ’n burger van die Republiek en het die reg om sy sienings uit te spreek soos in die Grondwet van Suid-Afrika vervat in sy reg op vryheid van spraak. Dit is daarom noodsaaklik dat die DA nie insinueer dat hierdie stelling die amptelike uitspraak van die SAUK is nie. Om daarom die SAUK by hierdie saak te betrek is betreurenswaardig en roekeloos,” lui die verklaring.

Die SAUK het bygevoeg dat hy nie teen Motsoeneng kan optree net omdat hy sy persoonlike sienings uiter nie. “Die SAUK-raad is in geen posisie om die bedryfshoof te dissiplineer weens die feit dat hy bloot sy sienings as landsburger deel nie. Dit is nie in die SAUK se beste belang om by hierdie kwessie betrek te word nie.”

Motsoeneng het Dinsdag aan LP’s gesê Davis moenie bang wees dat die media gereguleer word nie. “Selfs die parlement word gereguleer. Die regters word gereguleer. Watter sonde sou dit wees as die media gereguleer word? Ek dink dit is baie belangrik dat alle persone gereguleer word, want wat ons probeer sê is dat mense professioneel moet wees wanneer hulle hul werk doen,” het hy gesê sonder om te spesifiseer dat sy siening nie dié van die SAUK is nie.

Hy het ook Maandag aan ’n paneelbespreking deelgeneem oor transformasie in die media waartydens hy gesê het joernaliste is nie objektief nie en is “lui”. Davis het gereageer deur te sê dit is “hierdie tipe nonsens” wat Motsoeneng oor die hele Suid-Afrika bespotlik gemaak het.

“As iemand gereguleer moet word, is dit Hlaudi Motsoeneng self. Dit is tyd vir Motsoeneng se baas [Frans Matlala] om die mat onder die voete van sy bedryfshoof uit te pluk. Elke keer dat Hlaudi sy mond oopmaak, berokken hy skade aan die geloofwaardigheid van ons openbare uitsaaier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Winston ·

Ja Peet. Lol. Dit gaan afhang van wie dit gesê het en vir watter party hy stem.

Peet Schabort ·

Ai Winston, daar sneuwel my kommentaar. Lyk my die muilband werk al . . .

Manie ·

Die Hlaudi kerel is in die SAUK aangestel en moet besef hy gebruik sy posisie en Platform verskaf deur die SAUK om omstrede opinies te maak
Daarom kan die SAUK hulle nie distansieer nie. Hulle moet verantwoordelikheid aanvaar.

Gerhard Bezuidenhout ·

Die siel het die uitlatings gedurende werkstyd en nie in sy privaat hoedanigheid gemaak, daarom moet die SAUK raad volle verantwoordelikheid aanvaar . Hulle dink dat ons onnosel is soos die ” ander ” om hul slim stories te glo.

zahn ·

Sal die SABC asb hom dan, gesien in dieselfde lig, ook distansieer van die man se salaris, aangesien daazr geen duidelike skeiding is tussen sy amp en sy persoonlike lewe nie?

Gerhard Bezuidenhout ·

Ja Peet hulle is tog soooo sensitief . Vanoggend is n kommentaar van my ivm die dreigende staking by Rand Waterraad ook verwyder omdat ek gese het dat dit nie snaaks is dat sekere mense vir weke nie was nie. Ek dink dat ek my moet distansieer van kommentaar lewer want dit word op n gereelde basis verwyder,

Rynhardt ·

Moetsoneng hoef nie vir regulering van media te vra nie,want van die verlede tot teenwoordige tyd was en word die media nog altyd gereguleer!Agter die skerms word jou wereldmedia beheer deur die nuwe weteldorde!In Julie 2015 het 70% van Amerikaners bekend gemaak hyl glo nie in die hoofstroom-media nie.Dit was juis hierdie media se leuens wat Amerika in groot ellende gedompel het,nes Suid-Afrika.Die SA media kan nie sy skuld ontken in die val van die Afrikaner nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.