Seun sterf ná munisipale beampte hom omry, vlug

Mario Iyapian, Rinus Fourie, Lewka, Standerton, Mpumalanga, Zodwa Patricia Molebatsi

Mario Iyapian. (Foto: Verskaf)

ʼn Sakeman van Mpumalanga  is vasberade dat geregtigheid vir sy 18-jarige seun geskied,  nadat ʼn munisipale werker hom glo tydens ʼn tref-en-trapvoorval doodgery het.

Rinus Fourie sê ná sy seun se dood is dit of alles vir hom te veel raak.

“Ek cope nie regtig nie,” het hy Dinsdag aan Maroela Media erken.

Hy verwys na ʼn klerk in die finansiële afdeling van die Lekwa-munisipaliteit in Standerton.

Die beampte, wie se naam aan ons bekend is, is onlangs op borgtog van R1 500 vrygelaat en moet weer 26 Maart in die hof verskyn. Hy word aangekla van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur. Hy is intussen, sover bekend, steeds werksaam by die munisipaliteit.

Fourie probeer tans alles in sy vermoë om die inwoners van Standerton so ver te kry om met die werknemer se volgende verskyning, buite die hof te betoog, in ʼn poging om druk op die owerhede te plaas om die verdagte te vervolg.

Volgens Fourie het die klerk op 4 Februarie sy seun, Mario Iyapian (18) en nog ʼn vrou Zodwa Patricia Molebatsi in Lombardstraat omgery. Hy is kort daarna in hegtenis geneem.

Sedertdien is Fourie se lewe omgekeer. Hy en Mario, sy jongste seun, sou hierdie jaar volstoom met hul boor- en grondverskuiwingbesigheid begin het.

Hy het daardie oggend tevergeefs gewag dat Mario moet terug kom huis toe.

Mario Iyapian, Rinus Fourie, Lewka, Standerton, Mpumalanga, Zodwa Patricia Molebatsi

Zodwa Patricia Molebatsi. (Foto: Verskaf)

“Mario het by vriende gaan kuier en het die oggend huis toe gestap. Dit lyk of hy en Zodwa saam gestap het, sodat hy kon seker maak sy is veilig by die huis,” sê Fourie.

Mario se vriende, wat te hore gekom het van die ongeluk, het Fourie die volgende oggend vroeg gebel en gesê hy moet dadelik na die polisiekantoor gaan.

Daar gekom is Fourie die skoknuus meegedeel dat sy kind dood is, nadat hy deur ʼn motor omgestamp is en meer as ʼn uur moes wag vir ʼn ambulans.

Fourie is oortuig daarvan dat sy seun nog hier sou gewees het as die bestuurder net dadelik stilgehou en nie weggejaag het nie.

ʼn Nadoodse ondersoek het later glo bevind Mario is nie opslag dood ná hy getref is nie. Hy het na bewering verskeie kneusplekke aan sy kop en bo-lyf gehad. Die beserings aan sy onderlyf was ernstig, met sy heupe en bo-bene wat glo gebreek was.

Luidens die nadoodse verslag het Mario inwendig doodgebloei as gevolg van dié frakture. Zonda, wat vier kinders agterlaat, het ook beswyk aan haar wonde.

Fourie wil hê reg en geregtigheid moet geskied. “Ek wil net hê hy moet tronk toe gaan,” het die bedroefde pa gesê.

Lubabalo Majenge, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit is bewus van die voorval. Volgens hom was die betrokke werknemer nie aan diens gewees nie en ag die munisipaliteit die saak as privaat.

“Dit wil blyk die werker was oor die naweek in sy private tyd in sy private motor betrokke by ʼn ongeluk. Hy het oomblikke later teruggekeer na die toneel. Die munisipaliteit ag daarom die aangeleentheid as ʼn privaat en gaan nie kommentaar lewer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.