Sewe partye byeen vir ‘historiese konvensie’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Reint Dykema)

Sewe politieke partye wat hoop om die ANC saam te onttroon kom volgende maand byeen vir ʼn historiese konvensie.

Die DA, VF Plus, IVP, ActionSA, Nasionale Vryheidsparty (NFP), United Independent Movement (UIM) en die Spectrum National Party (SNP) bied binnekort saam ʼn nasionale konvensie aan waartydens die moontlikheid van ʼn pakt-regering bespreek sal word.

Die konvensie vind op 16 en 17 Augustus by Emperor’s Palace in Kempton Park plaas.

Belangrike sake op die agenda sluit in die waardes en beginsels van ʼn pakt-regering, die formulering van ʼn gesamentlike minimum program van aksie, reëls van betrokkenheid tydens die komende verkiesingsveldtog en ʼn formule om ʼn nuwe kabinet ná die 2024-verkiesing te vorm.

Die sewe opposisiepartye meen daar is rede vir optimisme. “Vir die heel eerste keer sedert 1994 kan die regerende party sy meerderheid verloor wanneer kiesers volgende jaar na die stembus gaan,” het die sewe politieke partye Maandag in ʼn gesamentlike verklaring gesê.”

Die moontlikheid plaas egter ook ʼn groot verantwoordelikheid op die skouers van die opposisie partye. “Dit ʼn verantwoordelikheid wat ons ernstig opneem,” lui die verklaring.

“Dit is met hierdie groot verantwoordelikheid in gedagte dat die leiers van ons sewe organisasies ʼn reeks ondersoekende vergaderings die afgelope twee maande gehou het. Die vergaderings is gehou om die grondslag te lê vir ʼn nasionale konvensie waar die leiers van opposisiepartye kan saamkom om ʼn voorverkiesingsverdrag te beding.”

Die partye sê daar is ʼn goeie rede waarom die konvensie juis by Emperor’s Palace in Kempton Park gehou word. Dit is hiér waar die Kodesa-onderhandelinge, wat die grondslag gelê het vir Suid-Afrika se oorgang na demokrasie, destyds plaasgevind het.

“Dit is dus gepas dat ons hierdie venue gebruik om nog ʼn geskiedkundige eerste aan te bied, waar leiers van die opposisiepartye om een tafel sal sit om ʼn gemeenskaplike visie vir ʼn nuwe regering uit te pluis.”

Die opposisiepartye het Maandag benadruk dat die leiers van die betrokke sewe politieke partye vrywillig by die proses betrokke is.

“Dit is vir elke party om uiteindelik te besluit of hy formeel wil aansluit by die pakt sodra onderhandelinge by die komende nasionale konvensie afgehandel is.”

Die ACDP en Build One South Africa (Bosa) het verskeie van die vergaderings bygewoon en moet nog besluit of hulle die nasionale konvensie volgende maand gaan bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Althes ·

Dit sal wonderlik wees. Solank almal respekteer word, kan ons vorder. Ons het dringend ñ nuwe regering nodig. En Suid-Afrikaners in buiteland moet asseblief stem

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC sal nie maklik mag opgee nie. Dis hoe dit werk in Afrika. Vergeet dus van die stembus.

JvR ·

Hulle hoef nie mag op te gee nie. Die mag is aan hulle gegee, en solank as wat hul doen wat gese word, sal dit so bly. Anders sal die mag vir iemand anders, meer gehoorsaam gegee word

Republikein in die Wes Kaap ·

Die grond sal rooi wees, en die SANDF sal net. monitor.

Amelia ·

Goeie idee maar glo nie anc sal net oorgee nie daar is in elk geval altyd probleem na verkiesing wat hoeveel stmbriewe oral gevind word in veld ens so as dit nie vir dit was nie glo ek hul sou al lank uit gestem geweeshet want wie vertou hul nog net die wat sassa kry en nie die korupsie ens wil raak sien nie

Joe Olivier ·

Die United Independant Movement is nie die UDM soos wat aan begin van artikel staan nie.

Liza Joubert ·

Dagsê Joe
Dit was inderdaad ‘n fout. Ons vra om verskoning vir die vingerfout. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Liza
nms Maroela Media

JohanR ·

UDM sluit ook nooit by niks aan. Dink op die ou einde sal hulle eerder by die ANC en die EFF aansluit

Manie ·

Die ANC hou die Malema Joker kaart, met die EFF agter die ANC sal die ANC nie uitgestem word nie, al staan al die ander partye saam.

JACF ·

Dit is so waar. Ons het nou’n nuwe regering nodig.
Daardie nuwe regering wat ons sou wou instem is die geleentheid van ons weggeneem en vir ewig by die stembus weggeteken.
Wees tevrede met die ANC waarvoor die meerderheid voor gevra het en wees Baie versigtig vir hierdie nuwe alliansie. Ons Ken die huidige groep se werkswyse, hierdie ander groep gaan dalk so tekere gaan dat daar niks oorbly vir salarisse en pensioen nie. Moenie vergeet, hul kyk al lank uit om die hande binne die Staatskas te kry.
Stembus is nie die oplossing nie.
,’n Stukkie grond waar ons self kan besluite neem,
onderhandel daarvoor.

Papsak ·

Wonderlik solank ons net beter kan lewe en van alles kan he en n beter regering kan kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.