Sewejarige by KZN-skool aangerand

(Foto verskaf deur die DA)

ʼn Sewejarige leerder is na bewering by Ottawa Primary School in KwaZulu-Natal aangerand, glo ná sy beskuldig is daarvan dat sy R10 gesteel het.

Imran Keeka, die DA se provinsiale woordvoerder oor onderwys, sê hy het Woensdag met die meisie se gesin vergader wat ʼn ander storie vertel het as dit wat berig is. Volgens haar ouma is die leerder gevra om R10 skool toe te bring vir onbekende redes. Toe die kind en die gesin dit nie bekostig nie, is sy gewelddadig met ʼn pyp aangerand deur ʼn onderwyseres.

“Die saak vorm nou deel van ʼn polisieondersoek, maar die DA verwag van die LUR vir onderwys, Mbali Frazer, om ʼn interne ondersoek van stapel te stuur.”

Keeka sê dit is ʼn neiging binne provinsiale skole dat wanneer sulke voorvalle plaasvind, daar geen skorsings volg nie. “Dit laat die vermeende slagoffers in dieselfde plek as die persoon wat daarvan beskuldig is dat hulle die persoon aangerand het. Dit is onaanvaarbaar.”

Keeka benadruk lyfstraf is onwettig. “Artikel 10 van die Suid-Afrikaanse Skolewet is baie duidelik hieroor en elke onderwyser moet dit weet.”

Tot dusver het die provinsiale departement van onderwys nog nie enige stappe gedoen teen ʼn onderwyser wat onlangs van soortgelyke optrede skuldig bevind is nie. “Dit terwyl ons weet kinders word nog steeds by sommige skole geslaan.”

Die DA verwag van Frazer om seker te maak dat die onderwyseres, wat na bewering by die jongste voorval betrokke is, geskors sal word hangende die uitslag van die polisie- en interne ondersoek.

“Indien die onderwyseres skuldig bevind word, moet sy behoorlik aangekla word dat sy ʼn jong meisie geboelie en geslaan het.”

Die DA sal ook die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SACE) skriftelik versoek om sy eie ondersoek na die voorval van stapel te stuur.

“Gehalte onderrig kan nie plaasvind in ʼn gevaarlike omgewing nie. Ons stuur ons kinders skool toe en verwag dat hulle versorg sal word deur diegene wat ons vertrou om dit te doen. Wanneer hierdie vertroue verbreek word, moet dit in ʼn ernstige lig beskou word.”

Keeka sê veilige skole is diegene met goeie leierskap, behoorlike infrastruktuur en waar ouers betrokke is. “Dit is die pad vorentoe om die beste resultate te verseker vir ons jongmense.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

domheks ·

Ek het van ‘n skool gehoor wat die kinders vra vir R10 elk om vir die skoolhoof ‘n verjaarsdag geskenk te koop. Lekker man! Net in SA

Janine ·

Ja, dis die skole waar ons R2 000-00 pm betaal vir skoolfonds (publieke skool!) en alle vakke se ‘ekstras heeljaar moet betaal….. Gewone klere, lyste, ens. Belaglik!

Alta Alleman ·

Ek lees nêrens dat die EFF daar toi toi voor die skool nie.

Bolandse Nooi ·

Die EFF toyi-toyi net waar hulle sien daar is kameras sodat hulle dekking in die hoofstroom media kan kry.

Janine ·

‘n Onnie MAG MAAR my kind slaan wanneer nodig, MAAR!!!!! Moenie my kind so slaan nie, ek sal jou vermorsel!

Nettie ·

Dis nie lyfstraf nie! Dis aanranding! Die arme dogtertjie. Ek hoop sy herstel gou van die trauma en hou nie ‘n erge vrees vir skool oor nie.

Casper ·

Hoekom word onderwysers by swart skole nie summier geskors nie soos by Afrikaanse skole nie.By Afrikaanse skole is sulke gevalle geissoleerd want daar is samehorigheid.Voor julle my stenig ek praat van Afrikaanse skole en nie blanke skole nie.

Casper ·

In my skooldae was ons gevra om R 2 te betaal vir die voorreg om die dag wat ‘n vakansie begin gewone klere aan te trek maar dit was nooit verpligtende nie.Dit was aangewend om die skool se fondse te versterk en ons het spontaan R 2 gegee.

Oljetter ·

Miskien moet die ander 3 kante van die saak ook gehoor word voordat die rusbankrakkers toeslaan met hulle weldeurdagte opinies.

Franz ·

Liewe land,die arme KIND.N pak sla het nog altyd,gewerk.Maar aanranding,en die is aanranding is absoluut nie toelaat baar nie.Nooit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.