Shaik se paroolversoek het dalk ‘politieke dimensie’ – kenner

Schabir Shaik Foto: Werner Beukes/SAPA

Schabir Shaik Foto: Werner Beukes/SAPA

Die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik se aansoek om sy mediese parool in gewone parool te laat omskakel, is ongewoon en dit is baie onduidelik oor hoe dit gedoen kan word.

Maroela Media het Vrydag onthul dat Shaik ‘n aansoek ingedien het om sy parool te laat wysig.

Lukas Muntingh, projek-koördineerder van die Civil Society Prison Reform Initiative en verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het by navraag gesê Shaik het mediese parool gekry voor die wetwysiging in 2011/2012.

Artikel 79 van die wet wat mediese parool hanteer, het aanvanklik beslis dat die aansoeker terminaal en in die laaste fase van siekte moet wees. Dit is egter gewysig om voorsiening te maak dat ’n aansoeker aan ’n terminale siekte moet ly én nie bevoeg moet wees om homself te versorg nie.

Muntingh meen dié wysiging het probleme geskep. Volgens hom kan die kansellasie van mediese parool nie alleenlik gedoen word op grond van die verbetering van ’n persoon se gesondheid nie.

“In die geval van Shaik word daar dus per implikasie gesê dat hy ’n wonderwerk-herstel gehad het, of dat daar uit die staanspoor politieke manipulasie in die besluit was of dat daar nie eerlikheid rondom sy werklike siektetoestand was nie.”

Muntingh het gesê as Shaik se geval met die van Clive Derby-Lewis vergelyk word, is dit duidelik dat die besluitnemingsprosesse nie objektief was of aan die hand van rasionele standaarde gedoen is nie. “As ons die politieke karakter hieruit haal, kyk ons na ’n bedrieër en ’n sieklike ou man.”

Muntingh het gesê die minister het in die geval van Derby-Lewis gesê hy kwalifiseer nie vir mediese parool nie omdat hy nog nie gesê het hy is jammer nie. “Dit het absoluut niks met die toestaan van parool te doen nie. Ook die verwysing dat Derby-Lewis graad 3- en nie graad 4-kanker het nie, het niks met die saak te doen nie. Die paroolraad kon enige ander faktore in ag geneem het soos medemenslikheid om te verseker dat hy ’n waardige laaste paar maande het.”

Op ’n vraag of Muntingh dink Shaik se aansoek suksesvol sal wees, het hy gesê: “Dit is moontlik om ’n stok te kry om ’n mens mee te slaan, of ’n sleutel om die hek oop te sluit.”

Muntingh het daarop gewys dat mediese parool ’n vorm van parool is en nie onvoorwaardelike vrylating is nie. “Die doel is om diegene wat terminaal siek is, die geleentheid te gun om waardig te sterf.”

Marius Coertze, prokureur van Pretoria wat Derby-Lewis se mediese paroolaansoek vroeër gehanteer het, het gesê Shaik se aansoek is ’n klap in die gesig van die Suid-Afrikaanse gemeenskap. “Dit maak ’n totale bespotting van die stelsel. ’n Mens kan jou beswaarlik die vermetelheid van ’n bedrieër soos hy indink en met dié aansoek is hy besig om sy karakter gestand te doen.”

Coertze meen Shaik is waarskynlik gesonder as die helfte van die bevolking, maar deur die skaamtelose optrede van die regering en die feit dat hy waarskynlik die regte mense op die regte plekke ken, is dit moontlik dat sy aansoek goedgekeur sal word as iemand dit nie dringend teenstaan nie.

Die DA en VF Plus het woedend op die aansoek gereageer en dit as ’n klug bestempel.

Shaik is vroeër tot 15 jaar tronkstraf op aanklagte van bedrog en korrupsie gevonnis. Hy is ses jaar gelede op mediese parool vrygelaat en het net twee jaar en vier maande van sy vonnis uitgedien. Die meeste van dié tyd het hy in ’n private of tronkhospitaal deurgebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

As hy dan sodanig herstel het kanbhy mos terug gaan tronk toe om sy Vonnis regmatig te voltooi . DAN kan hy mos weer asndoek vir gewone parool.

THEA SWART ·

stuur hom dan terug tronk toe waar hy hoort en laat hy dan aansoek doen vir gewone parool – wat goed is vir een kan werk vir almal – geen wonder almal het gedink hy sit aan met die kamstige golf spelery nie – hy is so min siek soos ek

Cornelia ·

Hy het so gesond geword, hy doen nou die “Hippie Hippie Shake”.

Cornelia ·

Hy is nou so gesond, hy doen deesdae die “Hippie Hippie Shake”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.