Skoliere sterf ná troue in KZN

(Argieffoto: WCHEMS/Twitter)

Vier leerders, tussen 14 en 16 jaar oud, is Maandag in die vroeë oggendure oorlede in ʼn ongeluk toe hulle van ʼn troue teruggekeer het.

Die vier tieners was deel van ʼn groep van 30 pendelaars toe hul voertuig in ʼn ongeluk betrokke was, sê Imran Keeka, die DA in KwaZulu-Natal se woordvoerder oor onderwys. Elf leerders is in hospitale vir beserings behandel.

“Die DA betuig sy innige meegevoel met die families van die slagoffers wat op só jong ouderdom gesterf het. Ons wens die beseerde persone spoedige herstel toe.”

Die tieners was leerders aan die Groenvlei Combined School naby Amajuba in die noorde van KwaZulu-Natal.

“Die provinsie se paaie eis heeltemal te veel lewens. Dit is noodsaaklik dat die LUR vir onderwys, Mbali Frazer, die redes vir dié ongeluk bepaal. Dit verg die volle toewyding van haar samewerking met haar eweknie in die departement van vervoer om ʼn vinnige en omvattende ondersoek te verseker,” sê Keeka.

Hy versoek dat die LUR ook sielkundig-maatskaplike ondersteuning sal reël vir diegene wat dit nodig het en om seker te maak dat die nadoodse ondersoeke vinnig afgehandel word. “Die lyding van die naasbestaandes moet nie op enige manier verleng word nie. Die DA is toegewyd daarop om seker te maak dat die families die antwoorde kry wat hulle verdien.”

Frazer het intussen in ʼn verklaring gesê die ongeluk het op ʼn grondpad in Hattang plaasgevind. Die leerders het almal in dieselfde voertuig gery.

“Amajuba-distrikbeamptes is opdrag gegee om namens die departement met die families van die slagoffers te vergader,” voeg Frazer by.

“Ek bid gereeld vir ons kinders se veiligheid. Hierdie hartverskeurende nuus is vir my tragies, omdat ons altyd ʼn blink toekoms vir ons leerders in gedagte het. Ons betuig ons innige meegevoel met die families van die oorledenes en wens diegene wat beserings opgedoen het, ʼn spoedige herstel toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

NetMyOpinie! ·

Nou hoe moet die LUR verantwoording doen as mense soos idiote bestuur? Bestuurderslisensies is vrylik beskikbaar agv korrupsie…dalk die kaf begin stop neh?

Anel ·

Ek kan nou nie verstaan wst die onderwysdrpartement met die saak te doen het nie, tensy die kinders op ‘n skool uitstappie was! Die is tragies ja, maar wat nou? Gaan al die hulpbronne aan alle ongelukslagoffers gegee word? Wonder maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.