Skoolklere: Ouers dok steeds op

Gr. 1’s aan die Laerskool Rooiguiskraal (Foto: Maroela Media)

Die meeste kinders is die afgelope week terug skool toe, maar vir menige ouer was dit ʼn finansiële nagmerrie om hul kinders behoorlik uit te rus vir die nuwe skooljaar. Dit ten spyte van aanbevelings deur die Mededingingskommissie dat die prys van skoolklere sover moontlik beperk moet word.

Riglyne vir skole
Die Mededingingskommissie het meer as ʼn jaar gelede skole aangemoedig om te hou by die riglyne vir skoolklere, wat daarop gerig is om teen-mededingende gedrag by skole uit te skakel.

Die kommissie het vandeesweek gesê hy verskerp sy pogings om te verseker dat skoolklere teen billike en bekostigbare pryse aan ouers verkoop word. Die kommissie het ʼn uitgebreide bewusmakingsprogram wat gerig is op ouers, beheerliggame, handelaars én skole in ʼn poging om dié probleem te pak.
Die riglyne vir skoolklere behels onder meer dat dit so generies moontlik moet wees sodat dit by ʼn groter verskeidenheid handelaars gekoop kan word. Eksklusiwiteit moet beperk word tot items soos skoolwapens wat by spesifieke handelaars gekoop kan word; skole moet ʼn mededingende proses volg wanneer hy verskaffers aanstel en daar moet meer as een verskaffer wees sodat ouers ʼn wyer keuse het van waar hulle items kan koop. Die ooreenkomste wat met sulke verskaffers aangegaan word, mag ook nie onbepaald wees nie.

Nagenoeg 265 nuwe gr. 1’s het Woensdag by die Laerskool Elarduspark in Pretoria aangemeld. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Ouers dok steeds op
Ouers met wie Maroela Media gepraat het, sê hulle dok tot R500 vir een stuk kleredrag op.
In ʼn poging om te probeer geld spaar, koop talle ouers basiese items soos broeke en kouse of wit hemde by gewone kleinhandelaars, eerder as winkels wat spesialiseer in skoolklere.
Meisies kan egter nie so maklik wegkom met standaard kleredrag nie en rokke wat vir meisies voorgeskryf word, is dikwels ʼn peperduur aankoop.

ʼn Ma van ʼn graad 2-leerling aan Laerskool Constantiapark sê sy het R400 vir ʼn skoolrok opgedok. Sy het besluit om aanvanklik vanjaar net een nuwe rok te koop.
“Dit sal vir my ʼn verleentheid wees as my kind nie die regte klere aantrek nie. Die skool het nuwe FLO-klere [wat vir byvoorbeeld sportgeleenthede gebruik word] bekend gestel en die kinders mag vanjaar nog die ou klere dra. As sy egter die énigste kind is met die ou skooldrag, gaan dit vir haar baie sleg wees.

“Ek is nie bang mense dink ek is arm nie, maar kinders kan wreed wees as ʼn maatjie anders lyk as die res. Ek wil my kind dit spaar en sal liewer geld op ʼn ander plek spaar.”
Sy sê sy het al items by die skool se klerebank aangeskaf, maar het dit nie as veel goedkoper as nuwe klere gevind nie.
Nóg ʼn ma van Laerskool Constantiapark in Pretoria, wat ook anoniem wil bly, sê sy het nie ʼn werklike afname in die prys van skoolklere gesien sedert die Mededingingskommissie se bevindings nie.

“Dit is ook nie so maklik om tweedehandse klere in die hande te kry nie.”
Sy sê ouers probeer plan maak deur gewone, goedkoper knopieshemde te koop en dan die skool se wapen self daar op te werk.
“Maar selfs dán kan dit jou ʼn paar rand kos, want jy moet die wapen by die skool koop en betaal vir die borduurwerk as jy dit nie self kan doen nie,” sê Verster.

Die ma van ʼn graad 2-leerder by Laerskool Lynnwood sê sy het vanjaar byna géén nuwe skoolklere gekoop nie. Sy het verlede jaar meer as R3 000 bestee om haar dogter vir skool uit te rus, maar sê sy het die skoolklere effens groter gekoop.

“Ek kan nie elke jaar nuwe skoolklere koop nie. My kind mag ook nie in haar skoolklere speel nie, hopelik hou dit dan langer.”
Net die sweetpak wat leerders in die winter dra, het haar R500 uit die sak gejaag. ʼn Skoolrok het haar sowat R250 gekos.
Dié ma sê sy het ʼn ski-broekie, wat meisies onder hul klere moet dra, by ʼn winkel gekoop wat spesialiseer in skoolklere. “Ek sal dit nie weer doen nie, ek kan dit vir omtrent helfte van die prys by ʼn gewone kettingwinkel koop.” Volgens haar het die skool ʼn klerebank – en alle items daar is gratis. Gebruikte klere, of ongemerkte klere wat by die skool agterbly, word op ʼn spesifieke plek gehou en ouers kan enige tyd items daar neem.

“Ek gebruik nie die klerebank nie, want ek dink daar is ouers wat dit werklik meer as ons benodig.”

Argieffoto

Sy het ook ʼn jonger dogter wat oor ʼn paar jaar na dieselfde laerskool gaan en sê al haar ouer sussie se klere gaan dan weer gebruik word in ʼn poging om verder te bespaar.

Kort voor die skole heropen het, was daar talle boodskappe op sosiale media-groepe waarin ouers raad vra oor waar om die goedkoopste klere te koop. Daar was ook heelwat advertensies vir tweedehandse klere.
Die Mededingingskommissie het ʼn beroep op ouers gedoen om teenmededingende gedrag wat skoolklere betref fyn dop te hou en sê ouers móét by die beheerliggaam aandring dat daar by die riglyne vir skoolklere gehou word.

Skole moet let op ekonomiese omstandighede
Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hulle bespeur tóg ʼn verbetering. “In die verlede het skole dalk effens oorboord gegaan, maar alles – van sokkies tot oefenbroeke – hoef nie die skool se wapen op te hê nie. Ouers moet kyk hoeveel generiese items hulle kan gebruik en skoolspesifieke items beperk.”

Deacon sê die talle klagtes oor die prys van skoolklere is ʼn aanduiding van die breër ekonomiese omstandighede in die land. “Ek dink skole het begrip vir mense se omstandighede. Hulle móét sensitief wees daaroor,” sê hy.

Hy sê skole moet jaarliks na hul prioriteitslys kyk en dit aanpas na gelang van heersende ekonomiese omstandighede. “ʼn Skool kan byvoorbeeld nie voorsiening maak vir luukshede in ʼn tyd wat dit broekskeur gaan met meeste mense nie. “ʼn Skool moet besluit wat is nóú belangrik. Volgende jaar lyk die prioriteite dalk anders, maar wanneer dit swaar met mense gaan, moet dit in ag geneem word.”
Fedsas het ook in oorleg met die Mededingingskommissie ʼn adviesdokument met riglyne aan sy lidskole gestuur.

Skole word gevra om die beste kontrak met ʼn verskaffer te beding en Deacon sê dié kontrakte moet elke paar jaar heroorweeg word om te verseker dit is steeds mededingend.

Sommige skole verkoop sélf skoolklere en Deacon sê in súlke gevalle moet die skool ook verseker hy verskaf die items teen die beste prys.
“As ouers voel hulle kan die skoolklere elders teen ʼn beter prys koop, moet hulle dit vir die skool sê. Moenie net op die parkeerterrein staan en kla nie. ʼn Gemeenskap moet sáám hieroor praat en koppe bymekaarsit,” sê Deacon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

johan ·

Skool uniforms moet bly,dissipline, Godsdiens is uit skole forseer haal nou die skooluniforms uit en wat bly oor .Ek sê skooĺuniforms verspreiders moet meer opposisie kry en die wat daar is moet hulle prys vasstelling staak dan sal die uniforms nie so duur wees nie.

Hmmmmm.... ·

Dis nou al ‘n holrug geryde onderwerp…. elke jaar as die skole begin, lang stories oor wat alles gedoen moet word aan die koste van skooldrag…. met niks wat in die haar “gebeur” nie, en kom volgende jaar skryf die media weer lang berigte oor die koste van skooldrag. Want intussen het inflasie nie skooldrag verbygegaan nie. Maar gaan koop vir daardie selfde bloedjie gewone klere, (verkieslik in die omgewing sy of haar skool/ woonplek) van kroontjie tot toontjie, en kyk hoe ver kom mens met R3000….. en hoe lank dan moet die en daai kledingstukke vervang word omdat dit nie die 3e was oorleef het nie.

Tina ·

Die skoolklere wat ek gekoop het is aanvanklik duurder as verlede jaar. Dis nie net skoolklere wat ouers se sak pluk nie maar ook skoolfondse en naskoolgeld. En dan nie eers te praat van die kosblik pakkies nie!

Cherokee ·

Nie die 3de was oorleef nie? Ek hoop werklik dit is oordrewe! Wat self aanbetref, ek dra minis omdat dit minder materiaal is wat skoon gehou moet moet word, maar ek hoop, werklik hoop, die meisiekinders se rokkies hou vir meer as 3 wasse!

Mantie ·

Alle skole kan gerus denim rompies en langbroeke met golf hempies gebruik.

Gemaskerde Sopbeen ·

Maak skoolklere belasting aftrekbaar……..dan sien jy hoe drop die pryse.

Mandie ·

Laerskool impala kempton verkoop ook hulle geskenkde skooldrag…arme mense…skande man!!!..sover my kennis strek mag hulle wel vra vir n donasie..maar mag nir verkoop nie…

KaterinaKat ·

Ek stem 100% saam. Skooluniforms is in my opinie, n verouderde konsep en belaglik duur. Laat hul in die winter jeans en langmou T- hemde en n trui dra. En in die somer denim rompie of kortbroek met n T- hemp. Plain clothing in plain colours and design. Basics.

Johan Venter ·

Nou waarom het die ANC ‘n vlag, lande, die DA se kleur is blou, die EFF se kleur is rooi, wat wil mens van jongs af vir die kind leer?

W H School ·

Dis hom . Betaal . Wat maak julle kinders nog op skool . Wat van n toneel -” haai waar’s jou kinders vandag ? ” ek het hulle by ander mense afgelaai darem nie ver van die huis af nie” . ” ken jy die’ mense ? is dit nie gevaarlik EN nadelig vir kinders deesdae nie ? Lees jy nie die nuus ? . “Wel , almal doen dit en dit is die enigste manier vir jou kind om iewers te kom in die lewe ” . ” Is dit ? ” so jy vat maar n kans ?

Maryke Smith ·

My voorstel is dat alle skole wit hemde, grys broeke en swart skoene dra. Die das, trui en baadjie kan dan in die skool se kleure gemaak word. Ek glo die hemde, broeke en skoene sal klaar aansienlik minder kos, want jy kan dit dan selfs by Pep koop.

Mossie ·

Hoërskool Die Anker in Brakpan is een van die min skole wat na ouers se beursies oplet. Dis gewone grys kortbroek, gewone wit hemp, gewone grys kouse/wit kouse wat by pep of ackermans gekoop kan word. Geen wapen op hemde nie. Al vereistes is die blazer met sy wapen en die das, dit moet gekoop word. Die dogters is bietjie duurder omdat die check rompies spesiaal gemaak moet word. Dis die goedkoopste wat ek nog deur baie skooljare aan klere moes spandeer.

Monica ·

Die dat ek by ketting winkels aankoop en dan self die borduur van die skoolwapen ens doen. Kos my meer as dir helte goedkoper

Jax ·

Skoolklere is onnodig. Dis n Britse tradisie wat ons aangeneem het.
Gewone klere met streng reëls oor kuisheid.
My kinders het so skool gegaan en daar was geen probleme nie.
Die hele storie is n geld maak ding. Melk die arme ouers nog meer.
Belaglik duur en totaal onnodig!!

Anel ·

Skoolklere is net duur as jy alles op een slag koop. Verder het jy klaar gekoop vir ten minste 1 jaar. As jy slim koop, 2 jaar plus. Vat nou die geld wat jy aan skoolklere spandeer het en wat jou kind ELKE dag dra, en gaan koop gewone klere wat NIE elke dag gedra word nie. Dis nie net een broek en hemp en 1 paar skoene of een rokkie of rompie en bloesie nie en 1 paar sandale nie. En alles moet ‘n “brand” wees. Skoolklere is disipline en almal lyk dieselfde. Ryk, arm. Ek het oorsee skool gegaan op ‘n stadium en wat ‘n nagmerrie! Om elke dag te wonder wat om aan te trek. Om nie 2 dae na mekaar dieselde klere aan te trek nie. Om nie oud modies te wees nie. Om nie van disipline te praat nie. Skooldrag skep ‘n gevoel van trots en van behoort. Al war ek.kan sê koop slim. En as druk toegepas word, eis dat die materiaal beskikbaar word vir dogters se rokkies of rompe. My ma het jare terug my skoolrokke gemaak. Ek het ook my dogter se langbroeke gemaak wat beter gepas het as die gekoptes, en dis baie onlangs. Ek het ook my kinders se skooltruie en serpe gebrei, met skoolstrepe die lot. Nood maak jou slim.

Erika ·

Sjoe dis belaglike pryse. Ons het ongeveer R1700 vir al my seun se klere betaal en dit sluit n hele klomp items in. Dit is n generiese “variform” wat gemeng kan word met die skool se wapen ook op die items. Hulle hoef ook nie n peperduur skoolbaadjie te dra nie.

Penellope Jones ·

Begin maar in die middel van die jaar ‘n geldjie wegsit elke maand met die oog op skoolklere?
Om te wag tot op die tippie is dalk ‘n groter skok as om liewer elke maand ‘n paar rand weg te sit.

Skoolklere laat mens trots voel, (wel, dit het vir my ‘n gevoel van trots gegee in die skool) jy hoef nie ‘n klomp nuwe ander klere te gaan koop vir jou kinders vir skool toe te gaan nie – een of ander tyd gaan ‘n kind by die huis kom en vir Ma vra vir dieselfde soort skoene of hemp/broek/bloes as wat iemand anders by die skool gedra het.
Dit kan mens dalk op die ou einde ‘n groter bedrag geld kos . . . . .

EO ·

Hoekom dra alle skole nie grys hemde en grys broeke nie. Hierdie wit hemde wat die seuntjies moet dra is absoluut absurd!! Dit bly nie skoon nie!!

A van L ·

Plaas Lesufi hom bemoei met die skoolklere probleem nou mors plasings in skole op. Daar is ‘n verskeidenheid van kleure en tipe skooluniforms wat gemeng en pas kan word deur skole beskibaar by ketting winkels. Waarom moet party skole sulke uitheemse uniforms veral vir meisies he? Laerskool Bredell in Kempton Park het navy blou truie, sokkies en blou hemde by ‘n rooi checkrok vir die meisie. Dit lyk verskriklik! wonder wie se smaak was dit!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.