Skote klap buite Wits

Die owerhede Woensdag buite die ingang van Wits. (Foto: Twitter)

Skote het Woensdag buite die ingang van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se kampus in Johannesburg geklap toe die polisie ’n groep verdagtes agternagesit het.

Minstens vier verdagtes het by die ingang van die universiteit probeer injaag voordat hulle te voet op die vlug geslaan het. Geen studente of omstanders is beseer toe die verdagtes en polisiebeamptes na bewering skote op mekaar afgevuur het nie.

Shirona Patel, woordvoerder van die universiteit, het vanmiddag aan Maroela Media gesê polisiebeamptes het ’n groep gewapende verdagtes agternagesit wat na bewering ’n motor elders in Johannesburg gesteel het.

Volgens. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes patrollie in Fairland gery toe hulle ’n verdagte Etios opgemerk en dié voertuig agternagesit het. Die insittendes van die Etios het die polisiebeamptes opgemerk en voet in die hoek gesit.

Die polisiebeamptes het die verdagtes eers tot in die omgewing van Linden gejaag en toe in Empireweg waar die verdagtes op die polisiebeamptes begin skiet het.

Die verdagtes het daarna in Julesstraat ingedraai en in die rigting van Wits gejaag waar hulle deur die hek by die ingang van die kampus toegang probeer verkry het. Die verdagtes het eindelik die gesteelde motor agtergelaat en weggehardloop.

Die Johannesburgse metropolisie het in dié stadium reeds opgedaag en vier verdagtes is in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op twee vuurwapens.

Kweza het gesê die nommerplate van die Etios was vervals en met dubbelkantkleefband aan die motor vasgeplak.

Die polisie ondersoek tans die moontlikheid dat die verdagtes en die motor met enige ander misdaad verbind kan word.

“Daar word vermoed dat hulle in Fairland was om ’n misdaad te pleeg,” sê Kweza.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christine ·

Tyd dat kriminele summier van kant gemaak word. Dit sal vinnig die einde van misdaad wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.