Skrywer van ‘Reënboogrant’-stories sterf

Maritha Snyman, een van die voorste kinderboekkenners van die Afrikaanse boekwêreld. (Foto: Lapa Uitgewers)

Maritha Snyman, een van die voorste kinderboekkenners van die Afrikaanse boekwêreld, is Maandag oorlede.

Carla van der Spuy, skrywer, joernalis en jarelange vriendin, en Nicol Stassen, wat Maritha bykans 25 jaar geken het, het aan Maroela Media bevestig dat sy in ʼn motorongeluk gesterf het. Daar is in hierdie stadium min besonderhede oor die ongeluk beskikbaar.

Verskeie topverkopers het uit Maritha se pen gevloei, onder meer die Liewe Lawwe Lagboek-reeks, ʼn Annerste ABC-boek vir aspatatte en verskeie Reënboogrant Maats-boeke. Maritha is ʼn afgetrede professor in inligtingkunde, en sy was voorheen die hoof van Lapa Uitgewers.

“Wat ʼn skok is Maritha se ontydige heengaan nie. Sy het soveel vir gevestigde en aspirantskrywers, vir my inkluis, beteken en was meer van ʼn vriendin as uitgewer,” betuig Carla haar meegevoel.

Maritha het destyds vir Carla die geleentheid gegee om ʼn misdaadboek, Mens of monster: Die psige van ʼn misdadiger, te skryf. Carla erken dit was nie iets waaraan sy self gedink het om te doen nie, maar sy is vandag innig dankbaar vir die bydrae wat Maritha gelewer het.

“Ek en Maritha het mettertyd nie net as skrywer en uitgewer saamgewerk nie, maar ook vriende geword. Dit was die lekkerste wat ek nog saam met iemand gewerk het. Maritha is ʼn uiters talentvolle mens, en sy het voortdurend planne vir allerlei projekte gehad.

“Ons het ook gereeld saam gekuier, en wat ek altyd van haar sal onthou, is dat sy kunstig en kleurvol aangetrek het en ʼn trotste ouma was.”

Medeskrywers en vriende het ook op sosiale media hulde aan Maritha gebring.

“Tans kan ek nie meer sê as hierdie post en hierdie paar woorde nie. Liewe Maritha Snyman, ek sal jou nooit vergeet nie. Jy was ʼn goeie vriendin, die beste baas, groot kinderboekkenner en mentor,” skryf Marieta Nel, nasionale bestuurder van Lapa Uitgewers se skoleafdeling.

Marieta het verskeie skooltoere saam met Maritha en jeugboekskrywer Anzil Kulsen onderneem in ʼn poging om ʼn leeskultuur onder jongmense te kweek.

Maritha word oorleef deur haar man, Braam, die egpaar se kinders en hulle kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.