Skurke verdwyn met skenkings vir behoeftige oues

Die ruim skenking sou hierdie Kersfees in bederfpakkies vir bejaardes gebruik word. Dit is uit Helpende Hand se streekkantoor in Kempton Park gesteel. (Foto: Verskaf)

ʼn Welsynsorganisasie is platgeslaan nadat ʼn produkskenking van meer as R1 miljoen, wat gebruik sou word om dié Kersfees bederfpakkies vir behoeftige bejaardes aan die Oos-Rand te gee, die afgelope naweek gesteel is.

Mariolette Vorster, streekorganiseerder vir Solidariteit Helpende Hand aan die Oos-Rand, sê ‘n farmaseutiese maatskappy het die skenking van Dermikelp-produkte gedoen en die organisasie het verlede week al die produkte na sy perseel in Kempton Park verskuif. Daar is dit in spesiale geskenkpakkies vir nagenoeg 4 800 bejaardes, van wie die meeste van karige Sassa-toelae afhanklik is, verwerk.

“Ons het so daarna uitgesien om die pakkies uit te deel. Dit was ʼn seëning waarmee ons die hele streek se bejaardes wou bederf. Hulle het dit van dié mense gevat,” het Vorster gesê.

Elke geskenkpakkie het minstens agt produkte, waaronder spesiale sjampoe, opknapper en lyfroom, bevat.

Vorster sê boewe het vermoedelik die bedrywighede dopgehou voor hulle laat Saterdagnag of vroeg Sondagoggend toegeslaan het.

Charmanay de Klerk, ʼn maatskaplike werker, was Donderdag by die perseel om voorbereidings te tref vir ʼn kursus wat die naweek daar aangebied sou word. Met haar aankoms daar was die huis se krag egter onverklaarbaar af en die hekmotor se battery het teen daardie tyd heeltemal afgeloop.

Die stukkende hekmotor. (Foto: Verskaf)

De Klerk is by die perseel se voetgangerhekkie in. Dit was met ʼn draad vasgedraai, hoewel dit ook ʼn slot aanhet. Omdat die krag af was en die oorsaak daarvoor nie dadelik gevind kon word nie, is die opleiding na ʼn ander perseel daar naby verskuif.

De Klerk was Vrydag weer by die perseel om items op te laai en in daardie stadium was die voorraad steeds veilig daar. Ná Saterdag se opleiding by die alternatiewe perseel, is De Klerk weer terug na die perseel.

Sy het gesien die hekmotor is uitmekaar geruk en die battery en seinontvanger is gesteel. De Klerk het die veiligheidsmaatskappy ontbied en beamptes het saam met haar deur die perseel gestap om te verseker alles is in orde. “Dit lyk of boewe in daardie stadium vermoedelik reeds op die perseel gaan rondsnuffel het, maar die voorraad was nog alles daar,” het Vorster gesê.

Die motorhek is met ʼn slot beveilig, maar toe De Klerk Sondagoggend weer by die perseel aankom, was dit dadelik duidelik dat die boewe behoorlik toegeslaan het.

“Ek kon op haar gesig sien iets is fout.”

‘n Stukkende skuifdeur van die huis wat Helpende Hand op Kempton Park as streekkantoor gebruik. Die hekmotor is beskadig en verskeie ander stukke toerusting, soos ‘n kragopwekker en grassnyer, is ook gesteel. (Foto: Verskaf)

Die voordeur en veiligheidshek is oopgebreek, ʼn skuifdeur is uit sy spoor gestamp en binnedeure is met vermoedelik skroewedraaiers oopgedwing.

Vorster sê sommige van die takke het reeds van die geskenkpakkies kom afhaal, maar die meeste van die items – met ʼn waarde van tussen R500 000 en R600 000 – is egter gesteel. Al wat oorgebly het, was enkele items wat die boosdoeners oënskynlik laat val het toe hulle met die buit gevlug het.

ʼn Rekenaar, grassnyer en ander tuintoebehore, asook die organisasie se kragopwekker, is ook gesteel.

Die organisasie het oor ʼn week ook ʼn gholfdag waartydens geld vir die stig van ʼn studiefonds ingesamel word. Die pryse wat tot dusver daarvoor ingesamel is, is ook gesteel.

Vorster het ʼn beroep op enigiemand met inligting oor die diefstal gedoen om na vore te kom en het by mense gepleit om die Kempton Park-polisiestasie te laat weet indien hulle bewus word dat enige van die skenkings verkoop word.

Sy het ook gevra dat mense nie die produkte koop indien hulle vermoed dit is gesteel nie.

Daar word nou inderhaas probeer om nuwe geskenkpakkies bymekaar te maak.

“Hierdie was ons droomprojek en ons sou hierdie groot bederf-Kersboksies in die eerste week van Desember uitgedeel het.

“Alles voel so onwerklik, ek kan nie glo alles is gesteel nie.”

Enkele bokse met produkte is na die diefstal gevind waar die skurke dit klaarblyklik laat val het. (Foto: Verskaf)

Vorster sê skurke het iets gevat by mense wat dit reeds nie breed het nie en wat hulle lewe sou help verbeter het.

Sy sê hoewel hulle die hekmotor kan vervang en ander skade kan herstel, voel dit nie veilig om weer voorraad op die perseel te stoor nie.

Vorster het ʼn beroep op weldoeners gedoen om hul harte oop te maak sodat daar dié Kersfees steeds geskenkpakkies uitgedeel kan word en die gholfdag ten spyte van die reuseterugslag kan voortgaan. Die organisasie kan ʼn kwitansie gee vir enige skenkings wat dan weer vir belastingaftrekkingsdoeleindes gebruik kan word.

Kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, sê ʼn saak van huisbraak word ondersoek. Geen verdagtes is nog aangekeer nie en daar word steeds na die gesteelde produkte gesoek.

Boewe het ook binne die huis geplunder. (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

AmY ·

Nou gaan dit seker teen belaglike pryse op straat verkoop word?
Dis waar, God slaap nie.

Danie ·

Niks en niemand is veilig nie.Dit is veronderstel om n feestydperk te wees maar misdadigers slaan juis nou toe op niksvermoedende slagoffers.Wees asb op en wakker.

Cabous like braai ·

Hy / hulle sal hul dag kry ….die wiel sal draai …so jammer altyd ou bejaardes wat deesdae deurloop…Mag daar n weldoener wees wat elke ou mensie sal seen met n kers pakkie

JohanR ·

Hulle is soos vliee wat sommer in jou bek wil in kruip agter die kos aan!

Carel ·

Inside job. Laat arbeiders almal leuenverklikker toets doen

Mariana ·

Die uitvaagsels ontsien niemand nie. SA is nou regtig ‘n gangsters paradise. Maar ja God slaap nie.

Lurock ·

As ek so na die foto kyk, blyk dit dat die stelsel verseker van ‘n groot vervoermiddel gebruik gemaak het. Dis so jammer dat dit altyd die weerloses en die verswakte wat ly onder hierdie uitvaagsels.

Jannie van Niekerk ·

Gaan soek maar net die goed by ANC en EFF ondersteueners wat sê Solidariteit is rassisties se huise

Di ·

SKUIM van die aarde! Mag karma sy werk doen met die spul kriminele

Susanna ·

Die goedere word heel moontlik klaar op FB marketplace verkoop. Die perseel was definitief dop gehou en dalk inligting van binne verkry

Hennie ·

Klomp voorraad wat in n huis sonder enige werklike beveiliging gestoor is. Wat het hulle dan verwag?

Piet parys ·

Nalatig van julle af . Hierdie is n misdadiger se voorkeur land want niemand word gearestreer nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.