Só lyk beurtkragskedule vir die week

Argieffoto (Foto: Alexa/Pixabay)

Danksy laer aanvraag en verbeterde beskikbare kragopwekkingskapasiteit, sal fase 2-beurtkrag Sondagmiddag vanaf 16:00 ingestel word tot Maandagoggend om 05:00.

Beurtkrag sal daarna tot 16:00 Maandagmiddag opgeskort word waarna fase 4-beurtkrag tot Dinsdag om 05:00 sal geld. Dit volg deur fase 1-beurtkrag tot 16:00. Dié patroon sal tot verdere kennisgewing daagliks herhaal.

Eskom sê tydens die laer aanvraagperiodes deurnag is dit moontlik dat beurtkrag vir ʼn paar uur opgeskort kan word om die stelsel te bestuur. Indien enige beduidende veranderings plaasvind, sal die kragvoorsiener verdere inligting bekendmaak.

Altesaam 15 846 MW is tans nie beskikbaar nie weens onverwagse tegniese probleme. Altesaam 2 239 MW is nie beskikbaar nie weens beplande instandhouding.

Oor die afgelope 24 uur is ʼn kragopwekkingseenheid elk by Kendal, Kriel en Matla weer in diens gestel en twee eenhede by Lethabo-kragstasie. Cahora Bassa is ook oor dieselfde periode weer in diens gestel ná ʼn tegniese fout Vrydag.

Oor dieselfde periode is ʼn kragopwekkingseenheid egter elk afgeskakel by Arnot, Camden en Medupi. Die verdere vertraging om eenhede aan te skakel by Grootvlei, Hendrina, Majuba en Tutka dra by tot die huidige beperkings in kragopwekkingskapasiteit.

“Ons span werk onverpoosd om seker te maak die eenhede word oor die volgende paar dae weer in diens gestel.”

Die kragvoorsiener bedank Suid-Afrikaners wat reageer op die versoek om elektrisiteit spaarsamig en doeltreffend te verbruik deur onder andere geysers tussen 17:00 en 21:00 af te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Linda ·

Hahaha, ag asseblief. More is ons weer terug op fase 6. Julle flous niemand nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.