Só lyk NVG se sukseskoers afgelope jaar

(Foto: Brenda Masilela/ANA)

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sê hy het die afgelope jaar ʼn hoë vervolgingskoers in die hooggeregshowe, streekhowe én distrikshowe gehandhaaf.

Adv. Shamila Batohi, die nasionale direkteur van openbare vervolging, het die parlement Dinsdagoggend op hoogte gebring van die stand van sake by die NVG.

Hofsake

Luidens die jaarverslag is daar in die afgelope boekjaar 846 nuwe sake in hooggeregshowe geregistreer, uitspraak is in 966 sake gelewer en in 869 sake was vervolging suksesvol.

In die land se streekhowe is 51 551 nuwe sake geregistreer, meer as 30 000 is afgehandel en in net minder as 23 000 sake was daar ʼn suksesvolle vervolging.

Distrikshowe landswyd het meer as 740 000 sake hanteer, net minder as 390 000 daarvan is afgehandel en altesaam 236 705 suksesvolle vervolgings is verseker. Uitspraak is gelewer in 247 342 sake en in meer as 146 000 sake is sake danksy alternatiewe dispuutbeslegting afgehandel.

Die NVG sê in sy jaarverslag hy het 2 898 pleit-en-vonnisooreenkomste aangegaan.

Hy het ʼn sukseskoers van 94,8% gehandhaaf wat betref vonnisse in georganiseerde misdaadsake. Dit fokus onder meer op sake wat verband hou met edelmetale, renosters, dwelms, onwettige mynbedrywighede en belastingsake.

Die NVG sê sy uitweking op ernstige ekonomiese misdaad kan duidelik gesien word in die 800 ingewikkelde handelsmisdaadsake waarin uitspraak gelewer is. In 760 sake, oftewel 95%, was vervolging suksesvol.

Die NVG het sy fokus op korrupsie verskerp en 143 mense uit die private sektor is ook vir korrupsie vervolg. ʼn 100%-sukseskoers is behaal wat betref vervolgings in sake van geldwassery. In 84 sake was vervolging die afgelope jaar suksesvol.

Daar is ook spesifiek gefokus op die vervolging van diegene betrokke by kubermisdaad en ʼn 99%-sukseskoers is gehandhaaf. Uitspraak is gelewer in altesaam 444 kubermisdaadsake en in 440 sake was vervolging suksesvol.

(Argieffoto: Pixabay.com)

Seksuele oortredings

Die NVG het die afgelope boekjaar sy hoogste vervolgingskoers – 74,4% – gehandhaaf wat seksuele misdaad betref. Uit die 6 353 sake waarin uitspraak gelewer is, was daar 4 724 suksesvolle vervolgings. Meer as 34 000 slagoffers is by 55 Thuthuzela-sorgsentrums landswyd bygestaan en daar was eindelik suksesvolle vervolgings in 73,5% van sake wat hiér aangemeld is.

Die NVG sê deur sy eenheid vir seksuele oortredings en gemeenskapsake gaan die erns van dié sake herprioritiseer word en daar gaan nou met die polisie saamgewerk word. Die NVG sê die polisie moet onder meer sy strategie rondom seksuele oortredings en geslagsgebaseerde geweld hersien en aanpas.

Aanklaers gaan borgtog teenstaan in voorvalle van ernstige seksuele misdrywe en waar borgtog wél toegestaan word, moet aanklaers strenger borgtogvoorwaardes vra.

Die NVG gaan ook saam met die polisie werk om te verseker dat daar ʼn toename in die getal toegewyde speurders en aanklaers vir dié sake beskikbaar is. Die vervolgingsgesag beoog ook om toegewyde howe vir seksuele oortredings in samewerking met die departement van justisie en korrektiewe dienste daar te stel.

Ander misdaad

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Christel Cornelissen)

Wat moordsake betref is uitspraak gelewer in 4 458 sake en in 78,3% van sake (4 645) was vervolging suksesvol.

Die NVG sê in sy jaarverslag verskeie faktore het ʼn negatiewe uitwerking op suksesvolle vervolgings van sogenaamde trio-misdade (huisrooftog, sakerooftog en kaping). Dit sluit in getuies se onwilligheid om te getuig, ondersoeke wat onvolledig gedoen is, bewysstukke wat nie versamel is nie, asook die afwesigheid van stawende getuienis oor wie die oortreder is.

Die NVG het nietemin 1 578 vervolgings uit 1 916 trio-misdaadsake verseker – ʼn suksesvolle vervolgingskoers van nagenoeg 82%. Dit is wel ʼn afname van 3% sedert die vorige boekjaar.

Batebeslagleggingseenheid

Die batebeslagleggingseenheid het volgens die jaarverslag nie naastenby sy teiken – om R10 miljard se bevriesingsbevele te verseker – gehaal nie. Die NVG sê in die verslag daar is heelwat vertragings in die afhandeling van sake waar groot bedrae geld ter sprake is – veral staatskapingsake – hoofsaaklik weens die ingewikkeldheid en omvang daarvan, vertragings in misdaadondersoeke en ʼn gebrek aan ondersoekers met die vermoë om finansiële misdaad te ondersoek.

Bates van R455 miljoen is die afgelope boekjaar gevries.

Getuiebeskerming

Die NVG sê geen getuies of verwante mense in sy getuiebeskermingsprogram is die afgelope boekjaar gedreig, beseer of vermoor nie. In die 2018/’19-boekjaar was 389 getuies en 280 verwante mense in die program. Altesaam 48 vervolgings is verseker in sake waar getuies in die beskermingsprogram getuig het.

Altesame vier getuies in die program het self – en sonder kennisgewing – gekies om die program te verlaat.

Altesaam 90 getuies en 76 verwante persone is suksesvol hervestig en uit die program ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Enige ANC’s Adv. Shamila Batohi? Ons wag geduldig vir baie ANC skelms om tronk toe te gaan. Maak seker Nomgcobo Jiba, Lawrence Mrwebi en Richard Mdluli is van die eerstes deur die tronk deur!

Fish ·

En nie een in politiek sit nie. nie een vervolg nie en nie een ‘n tronkstraf gekry nie. Lekker man lekker.
Well done soos die engelsman sal se.

lv ·

Wat nie gese word nie,is dat die aanklaers eers alle sake sif voor dit op die hofrol geplaas word,en so besluit watter sake suksesvol vervolg kan word.Ek wonder nog altyd hoe wettig die proses is,want daardie ge arresteerde wie se saak volgens die aanklaers nie suksesvol afgehandel kan word nie,word net eenvoudig vrygelaat,voordat daardie persoon voor die landros verskyn,maar eintlik nog wettig in aanhouding is.Dit is ook absolute manipulering van statistiek.

lv ·

En wat dit nog meer bisar maak,is dat die SAPD daardie saak wat die NVG nie op die rol plaas nie,omdat dit volgens hulle nie suksesvol vervolg kan word nie,weer as n suksesvol opgeloste saak ag.En so met die speel van woorde en statisieke en performance,word die publiek mislei.

Manie van Worcester ·

korrek, met syfers kan jy toor om jou saak te laat goed lyk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.