Só vang skelms jou onkant

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Misdaad kom om elke hoek en draai in Suid-Afrika voor en enigiemand kan ʼn slagoffer daarvan word – veral tydens die feestyd wanneer ʼn mens se aandag elders is.

Die veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT sê vakansiegangers moet op hul hoede wees dié Desember en hulself staal vir misdadigers wat op die uitkyk is vir sagte teikens.

“As dit voorkom dat jou aandag afgelei is of dat jy kwesbaar is, is daar ʼn werklike kans dat misdadigers jou as ʼn sagte teiken gaan sien,” sê Charnel Hattingh, Fidelity ADT se groephoof van bemarking en kommunikasie.

Volgens Hattingh is daar ʼn paar lokvalle waarin mense beland wat hulle dikwels kwesbaar laat vir allerlei soorte misdade.

“Misdaad is die meeste van die tyd opportunisties van aard, maar dit beteken nie dat daar niks is wat jy kan doen om die geleentheid van die tafel af te haal nie.”

Hier is ʼn paar algemene kwesbaarhede en raad om misdaad te vermy.

  1. ʼn Leë brandstoftenk

Van die gevaarlikste plekke om met jou motor sonder brandstof te gaan staan is op afgeleë paaie of langs ʼn snelweg, of dit bedags of snags is, maan Fidelity ADT.

“Misdadigers skuil naby snelweë en slaan vinnig toe aangesien hulle maklik weer kan wegkom en geen vrees het dat motoriste hulle sal jaag nie,” sê Hattingh.

“Dit is belangrik om altyd te verseker dat daar genoeg brandstof in jou voertuig is want jy waag jou lewe andersins.”

Sou motoriste wel sonder brandstof gaan staan is dit belangrik om iemand in kennis te stel waar jy jouself bevind en in die motor te bly, met die deure gesluit, totdat hulp opdaag.

  1. Groot bedrae kontant

“Misdadigers word dikwels inligting gevoer oor mense wat groot bedrae kontant by hulle dra en só ʼn persoon word agtervolg en beroof,” sê sy.

“Die vervoer van groot bedrae kontant is dus baie gevaarlik, so vermy dit waar moontlik.”

  1. Onoplettend in jou eie oprit

Kapings en gewapende rooftogte is selde opportunistiese misdade, maar word eerder fyn beplan volgens mense se roetines.

“Indien jy as ʼn teiken geïdentifiseer is, is jy die kwesbaarste terwyl jy by jou huis se oprit in of uitry. Wees altyd op die uitkyk vir vreemde mense of motors in jou woongebied en moenie inry voordat jou hek nie heeltemal oop is nie. Bly dan eers in jou motor totdat die hek weer toegegaan het.”

  1. Spog met duur besittings

Volgens Fidelity ADT kyk opportunistiese misdadigers veral na duur items waarmee links en regs gepronk word.

“Duur juwele, veral horlosies, is enige misdadiger se droom en hulle sal waarskynlik vir niks terugdeins om daardie item van jou af te vat nie,” sê Hattingh.

“Hou jou foon en geld buite sig en laat liefs duur juweliersware by die huis wanneer jy winkels toe gaan.”

  1. Vreemdelinge innooi

Misdadigers sal dikwels hulself as plaaslike raadslede, diensverskaffers of selfs die polisie voordoen om toegang tot mense se huise te verkry.

“Wees bedag as jy niemand die dag verwag nie, maar daar tog ʼn persoon by jou voordeur opdaag.”

  1. Vreemdelinge in diens

Hoewel elke Jan Rap en sy maat by jou huis kan kom aanklop vir werk, is dit belangrik om nie vreemdelinge in diens te neem nie.

“Dit is dieselfde as om ʼn vreemdeling toegang tot jou eiendom en huis te gee,” sê sy.

“Neem slegs werkers in diens wat deur ʼn agentskap of vriende voorgestel word.”

Hattingh meen dit is ook ʼn goeie idee om die persoon se ID-dokument te bekom sodat dié se kriminele agtergrond nagegaan kan word.

  1. Oop deure en hekke

Nog ʼn fout wat mense maak is om onder die indruk te wees dat jy veilig agter toe deure is, al is die deur nie gesluit nie.

“Veiligheidshekke moet altyd gesluit wees en die sleutels daarvoor moet ver weg van ʼn venster geplaas word.”

  1. Geïsoleerde plekke

Opportunistiese misdadigers maak ook dikwels gebruik van die geleentheid as mense alleen in hul motors sit of in afgeleë gebiede gaan stap.

“Hoe meer geïsoleerd die gebied, hoe groter kans is daar dat die misdaad gewelddadig sal word. Meer as een misdadiger sal ook dikwels van hierdie geleentheid gebruik maak,” sê sy.

  1. Waardevolle items in jou motor

In Suid-Afrika is daar ʼn bedelaar om elke hoek en draai. Baie van hierdie bedelaars gebruik dikwels die geleentheid om in mense se motors te loer vir waardevolle items.

“ʼn Motor se venster kan vinnig gebreek word om waardevolle items soos jou selfoon, handsak, beursie en skootrekenaar te gryp. Hou dié items eerder in die kattebak.”

  1. Wees paraat

Misdadigers maak steeds daagliks gebruik van toestelle wat jou motorsleutels se seine blokkeer om sodoende toegang tot ʼn geparkeerde voertuig te kry. Dit word veral by winkelsentrums gedoen waar mense se aandag verdeel of afgelei word.

“Kontroleer altyd – en maak dubbel seker – dat jou motor gesluit is voordat jy wegstap,” sê Hattingh.

“Misdadigers kan nie net by jou motor inklim en jou waardevolle items buit nie, maar selfs jou motor kaap of vir jou wag om terug te kom, jou ontvoer en jou dwing om geld te onttrek.”

Volgens Fidelity ADT raak misdadigers al hoe slimmer, maar is dit belangrik om ten alle tye bewus te wees van wat om jou aangaan.

“Ons almal kan Suid-Afrika veiliger maak as ons ʼn aktiewe belangstelling in veiligheid ontwikkel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.