Springbok- en Griekwalegende sterf

Piet Visagie op die aanval. Foto: Wessel Oosthuizen.

Piet Visagie, een van die spelers wat ʼn sleutelrol in Griekwas se sukesvolle Curriebeker-seisoen van 1970 gespeel het, is Donderdagaand in die ouderdom van 79 oorlede, het SA Rugby bevestig.

Peet Smith, sy provinsiale spanmaat, het aan Netwerk24 gesê dat Visagie (ʼn demensielyer) uiteindelik aan orgaanversaking oorlede is.

“Ons innige meegvoel aan die Visagie-familie met die afsterwe van Piet. Ons wens julle vrede, vertroosting, moed en baie liefde in hierdie moeilike tyd toe,” het Griekwas se rugbybeheerliggaam op sosiale media gedeel.

Die boodskap is met “#Griekwaslegende” afgesluit.

Die betroubare nommertienspeler het immers 52 jaar gelede saam met ander Poublou-helde soos Mannetjies Roux, Piet van Deventer en Joggie Viljoen toegesien dat die tuisspan vir Noord-Transvaal met 11 – 9 in die Curriebeker-eindstryd getroef het.

Benewens sy heldedae saam met die Noord-Kapenaars het Visagie ook in 1967 sy Springbok-buiging teen die besoekende Fransmanne op Kingspark in Durban gemaak.

Die Springbokke het daardie toets met 26 – 3 gewen en die bestendige losskakel het uiteindelik in 25 internasionale wedstryde gespeel.

Van sy hoogtepunte op die groot verhoog sluit die reeksoorwinning teen die Britse en Ierse Leeus-toerspan van 1968 in, terwyl hy ʼn spul punte in die Bokke se puik vertoning in die 1969-reeks teen die Wallabies aangeteken het.

“Baie mense sal ook sy briljante vertoning teen Nieu-Seeland in 1970 onthou. Sy skepskoppoging het tot ʼn oorwinning van 17 – 6 op Loftus Versfeld bygedra, terwyl sy uitstekende breekslag die laaste spyker in die All Blacks se doodskis op Ellispark was,” het Mark Alexander, president van SA Rugby, in sy huldeblyk gesê.

Visagie het skouers met gedugte Springbok-spelers soos HO de Villiers, Frik du Preez, Syd Nomis, Dawie de Villiers en Jan Ellis geskuur en benewens sy ses drieë was hy ook in die kol met vyf skepskoppogings.

Sy laaste internasionale reeks was in 1971 teen die Aussies toe die Bokke terstond vir die Wallabies met 3-0 weg van die huis pakslae gegee het.

Hy het drie drieë in daardie reeks gedruk.

“Piet Visagie was een van die bestes in ʼn era wat legendariese spelers opgelewer het. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy vrou (Carol), kinders (Jacques-Pieter, Caron en Peta-Maria), kleinkinders en ander geliefdes.”

  • Die Springbokspan in Visagie se laaste toets teen die Wallabies op 7 Augustus 1971 in Sydney het só gelyk: Ian McCallum (heelagter), Syd Nomis (regtervleuel), Peter Cronjé (buitesenter), Joggie Jansen (binnesenter), Hannes Viljoen (linkervleuel), Piet Visagie (losskakel), Joggie Viljoen (skrumskakel), Morné du Plessis (agtsteman), Jan Ellis (flank), Piet Greyling (flank), John Williams (slot), Frik du Preez (slot), Hannes Marais (kaptein en stut), Piston van Wyk (haker) en Martiens Louw (stut).
  • Visagie het uiteindelik 130 punte vir die Springbokke aangeteken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.