Springbokke speel vir elke Suid-Afrikaner

Die Sprinbok-span. (Foto: Springboks/Facebook)

Daar is baie op die spel in ʼn Wêreldbeker-kwarteindstryd. Een verbroude duikslag of een skewe stelskoppoging kan die hamerhou wees wat jou titeldrome in skerwe laat spat. Wanneer jy boonop teen die gasheerland in sy hoofstad speel, styg die temperatuur van die drukkoker sommer baie vinniger.

Maar volgens Bongi Mbonambi sal die Springbokke Sondag alles in die stryd werp om hul kwarteindstryd teen Frankryk op die Stade de France te wen.

“Daar is 60 miljoen Suid-Afrikaners by die huis wat op die uitkyk is vir hoop en inspirasie. Ons sien dit dus nie as druk nie, maar as ʼn groot eer een voorreg,” het Bongi Mbonambi gesê.

Volgens die Bok-haker berei elke speler op sy unieke manier vir ʼn kragmeting voor, maar almal is op die regte tyd as’t ware aangeskakel om hul beste vir die span en sy onderteuners te gee.

“Wanneer ons in die kleedmaker vir ʼn wedstryd gereedmaak, gaan dit net oor die Springbokke en Suid-Afrika.”

Die blitsige Cobus Reinach is in die Bokke se opdrafspan en sy direkte teenstander is Antoine Dupont; die Hane se kaptein en talisman.

“Antoine was Wêreldrugby se speler van die jaar en jy moet ʼn spesiale speler wees om só ʼn eer los te slaan. Hy sorg omtrent in elke toets vir ʼn spul hoogtepunte. Ons het oor hom as ʼn individuele bedreiging gepraat, maar ons fokus was veel eerder op ons strukture en spelpatroon,” het Reinach gesê.

Die Montpellier-skrumskakel is ook oorgehaal om sy beste te gee.

“Eben [Etzebeth] het vroeër gesê dat elke speler Sondag ’n taak het om te verrig: Ons wil ’n vertoning lewer waarop die span en die 60 miljoen mense by die huis kan trots wees.”

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Ox Nche, Vincent Koch, RG Snyman, Kwagga Smith, Faf de Klerk, Handré Pollard en Willie le Roux.

Frankryk: Thomas Ramos (heelagter), Damian Penaud (regtervleuel), Gael Fickou (buitesenter), Jonathan Danty (binnesenter), Louis Bielle-Biarrey (linkervleuel), Matthieu Jalibert (losskakel), Antoine Dupont (skrumskakel), Grégory Alldritt (agtsteman), Charles Ollivon (flank), Anthony Jelonch (flank), Thibaud Flament (slot), Cameron Woki (slot), Uini Antonio (stut), Peato Mauvaka (haker) en Cyril Baille (stut). Plaasvervangers: Pierre Bourgarit, Reda Wardi, Dorian Aldegheri, Romain Taofifenua, Francois Cros, Sekou Macalou, Maxime Lucu en Yoram Moefana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.