Ds. Theunis Botha, leier van die CDP, sê hoewel werkers die reg het om te staak, moet hulle dit verantwoordelik doen, en nie die ekonomie van die hele land in gevaar stel nie. “Winston Churchill het in ‘n verklaring ná die Slag van Brittanje gesê: ‘Nooit in die geskiedenis van oorlog is so baie mense so baie aan so min verskuldig nie.’ Wat nou op ons van toepassing is, is presies die teenoorgestelde, nooit het so min so baie skade aan so baie berokken nie.”
Botha sê die CDP is dit eens dat ‘n leefbare loon betaal moet word, maar onrealistiese verhogings saboteer die poging. “Die feit dat vakbondbase in luukse leef, terwyl stakers en hul gesinne honger ly is net so verwerplik as die buitensporige bonusse wat mynbase aan hulself betaal. Met inflasie in die land wat flink styg – die amptelike syfer van + 6 % wat deur die regering voorgehou word – is lagwekkend aangesien gewone mense vlakke van nader aan 15 % in goedere en dienste ervaar,” sê Botha.
Botha sê die koste word oorgedra na die reeds oorbelaaide belastingbetalers en verbruikers, en dat die e-tolstelsel die laaste strooi was. “Dit dwing baie mense dieper in die skuld in, terwyl Blink Stefaanse agteroor sit en kyk hoe hulle buitelandse rekeninge aanwas. Dit is nie net mynwerkers wat ly nie, selfs professionele mense soos onderwysers, verpleegsters en polisielede se lewenstandaarde krimp weens salarisverhogings wat nie met die inflasiekoers tred hou nie. Die mense wat die meeste ly is egter die pensioenarisse.”
Om die stakers ‘n ‘handvol’ te noem is dalk onjuis. Daar is groot steun vir stakings. Wat egter meer ontstellend is, is dat die stakende werkers die wat wil gaan werk, intimideer deur aanranding, brandstigting en dreigemente van fisiese geweld aan familielede. Waarom kan ons polisiemag nie hierdie intimideerders vasvat nie?