Stapper val meters ver op roete ‘met nare reputasie’

(Foto: Hugo Vaughan/WSAR)

’n Stapper is vandeesweek uit ’n smal sloot op Tafelberg gehys en vir hospitaalbehandeling geneem nadat sy 15 meter ver by ʼn waterval geval het. Die stapper is die tiende persoon om van die smal kontoerpaadjie by dié waterval te tuimel.

Die 64-jarige stapper het Woensdagoggend ʼn smal gedeelte van die kontoerpaadjie tussen die Platteklipkloof- en Indië Venster-staproete oorgesteek toe sy gegly en by die waterval geval het.

Die vrou het saam met familielede gestap toe die ongeluk plaasgevind het en hulle kon hulp ontbied.

Reddingswerkers van Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het op die noodoproep gereageer en tot by die beseerde stapper gestap. Sy is op die toneel ondersoek en gestabiliseer voordat sy op ’n draagbaar getel is.

(Foto: Hugo Vaughan/WSAR)

’n Helikopter is ook na die toneel ontbied.

ʼn Tegniese toustelsel is gebruik om die stapper versigtig uit die smal sloot te kry waarin sy geval het voordat sy tot in ’n helikopter gehys is.

Die vrou is vandaar na ʼn nabygeleë landingsone vervoer voordat sy per ambulans na ʼn hospitaal geneem is.

David Nel, ’n woordvoerder van WSAR, sê die punt bokant die waterval op die kontoerpaadjie het ’n nare reputasie ontwikkel. “Ons het al ʼn aantal ernstige voorvalle gesien, almal op een plek onder die waterval.

“Van die tien aangetekende voorvalle is twee mense ernstig beseer en vyf kritiek beseer nadat hulle van dieselfde plek geval het.”

Drie het gesterf.

WSAR doen nou ʼn beroep op stappers om uiters versigtig te wees wanneer hulle hierdie gedeelte van die kontoerpaadjie oorsteek.

 

(Foto: Hugo Vaughan/WSAR)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sandra ·

Is daar enige kennisgewings rondom die gevaar by die waterval? Cape nature kan mos sake in die gesig staar indien dit nie uitgewys word nie, of hoe ek dit nou?

Pieter J ·

Daar kan mos maar net ń tou of kabel aangebring word vir daardie meter of drie waaraan voetslaners kan vashou en ń kennisgewing daarby behoort voldoende te wees

Carl ·

Kan hulle nie maar net ‘n handreling daar sit vir daai stukkie nie. Daar is oral op ander plekke relings of kettings etc. om mense te help.

Sê maar net ·

Ek ken nie die staproete nie, maar….Kan hulle nie ‘n soort heining daar oprig vir veiligheid en vashouplek nie?

Dromer ·

Ai ek hoop sy herstel vinnig en hulle kan n manier kry om daai deel veiliger te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.