Steeds groot teenkanting teen omstrede Bela-wetsontwerp

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto:
Deltaworks/Pixabay)

Verskeie organisasies het opnuut stem dik gemaak oor die omstrede Bela-wetsontwerp tydens die openbare konsultasievergaderings wat die naweek in Gauteng gehou is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is die sessies goed bygewoon en het ’n oorweldigende getal mense tydens die sittings kapsie gemaak omdat die wysigingswetsontwerp artikels bevat wat ʼn groot bedreiging vir die toekoms van gehalte-onderrig, én Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder, inhou.

“Tans berus die finale besluit hieroor by skole se beheerliggame, maar die konsepwet bepaal dat die besluitnemingsmag by provinsiale onderwyshoofde moet lê. Dit beteken magsentralisasie in die hande van die staat, ten koste van gemeenskappe se reg om self oor hul kinders en skole se belange te besluit.”

Die DA is nes AfriForum uiters bekommerd oor die sentralisering van mag in die staat se hande. Bax Nodada, die party se woordvoerder oor onderwys, sê egter hulle is bemoedig deur die afgelope naweek se openbare deelname en die vlak van betrokkenheid onder Suid-Afrikaners.

“Dit lyk of die meeste mense die DA se kommer oor die wetsontwerp deel, veral die sogenaamde Lesufi-klousules wat poog om die mag in die hande van die departement en die minister te plaas en skoolbeheerliggame se magte oor toelating- en taalbeleid weg te neem.”

Die wetsontwerp verontagsaam boonop bekommernisse oor tuisonderrig en pak nie die werklike kwessies in skole nie, sê Nodada. Dié probleme sluit in te veel kinders wat uitval, verkrummelende infrastruktuur en swak gehalte onderrig.

Die DA is ook bekommerd dat sekere artikels gebruik kan word om moedertaalonderrig by veral enkelmediumskole in die hek te laat duik.

“Die sentralisering van mag lei tot grootskaalse mislukking met verwoestende gevolge vir almal behalwe die regering.”

AfriForum sê dit is belangrik dat alle belanghebbendes insette oor die voorgestelde wetgewing lewer.

Die organisasie is van mening dat dit beter sal wees om die ganse konsep te skrap en opnuut oor bestaande wetgewing te besin.

“Dit is nou tyd om weer nuut oor skolewetgewing te dink en met nuwe voorstelle vorendag te kom, eerder as om verder tyd en koste aan hierdie ideologies gelaaide, ongrondwetlike en verouderde konsepwet te bestee,” sê Bailey.

  • Die openbare sittings duur vandeesweek in Secunda en KwaZulu-Natal voort en daarna word sittings in die Oos-, Wes- en Noord-Kaap gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mariana ·

Darem so tipies van regering. Net hulle belange maak saak. Ons skole en standaarde is reeds so laag en steeds is dit nie genoeg vir hulle nie. Ons moet ons ons kinders en skole ten alle koste beskerm teen die regering en hulle ideologie. Hulle moet in geheel geen seggenskap hê oor ons kinders nie. Kyk hoe ver het die eens goeie skolestelsel se standaarde reeds gedaal……..belaglik.

Piet ·

Wat die vreemdste is, is dat (volgens berigte) die meeste ouers met skoolgaande kinders nie eers hiervan bewus was nie!! Hoe op dees aarde stop ons dan die regering om dit te implementeer?

MJLS ·

Waaraan die huidige regering raak, stort alles in duie. Watter toekoms lê daar vir ons nageslag voot?

skurweberg ·

Soek die probleem by die werksetiek en werkswaardes by werknemers, en nie by Taal as medium van onderrig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.