Stil elektriese motorfietse moet stropers help stuit

Die motofietse kan met sonkrag herlaai word. (Foto: CAKE)

Teenstroperypatrollies maak al jare lank gebruik van veldmotorfietse om patrollies te doen, maar dié motorfietse gebruik brandstof, ʼn skaars hulpbron in talle gebiede en ʼn duur kommoditeit om in die wildernis rond te karwei.

Die raserige enjins van die motorfietse beteken stropers hoor egter dikwels kilometers ver dat ʼn veldwagter op pad is en gee hulle oorgenoeg tyd om te laat spaander.

Ingenieurs by die vervaardiger CAKE het nou ʼn hoëprestasiemotorfiets in samewerking met die Suider-Afrikaanse Wildlewekollege (SAWC) ontwikkel wat stiller en ligter as enige verbrandingsenjin-motorfiets is.

Met die nuwe Kalk AP-motorfietse kan wildbewaarders stropers stil en ongesiens nader en hul teenstroperywerk veel meer doeltreffend doen.

“Dit is die perfekte voorbeeld van die bymekaarkom van ʼn doelwit en volhoubaarheid,” sê Stefan Ytterborn, hoof en stigter van CAKE.

Die motorfiets sal voordurend aangepas word soos terugvoer van wildbewaarders ontvang word om op dié manier die beste motorfiets moontlik vir teenstropery-operasies te ontwikkel.

Minder brandstof, meer hernubare krag

Die enjin is stil, wat beteken wildbewaarders kan stropers nader sonder dat die enjin hulle waarsku dat iemand op pad is. (Foto: CAKE)

Met verbrandingsenjinmotorfietse is die aankoop en vervoer van brandstof na afgeleë gebiede duur, ongerieflik en onvolhoubaar. Die brandstof moet met vragmotors of selfs helikopters vervoer word. Met dié nuwe motorfiets word wildbewaarders ook toegerus met ʼn kragstelsel en sonpanele van die maatskappy Goal Zero, wat beteken die motorfietse word met sonkrag herlaai.

“Ons is baie trots op die vennootskap tussen CAKE en Goal Zero om die elektriese veldmotorfietse te toets, gegewe die uitwerking wat dit op teenstropery in Afrika kan hê,” sê Theresa Sovry, hoof van SAWC.

Die eerste motorfietse is in September aan die SAWC oorhandig en word nou getoets voordat dit in die veld teen stropers ingespan gaan word.

“Die petrolmotorfietse wat ons vantevore gebruik het, het geraas, was swaar en duur om in die gebiede te bedryf. Die CAKE-motofietse is stil, wat dit makliker maak vir ons om stropers ongesiens te nader. Ons hoop die samewerking lei tot meer doeltreffende teenstroperypogings in die ons streek en ons is werklik opgewonde om dit te begin gebruik,” sê Mfana Xaba, ʼn teenstropery-spanleier.

Stropery in Suid-Afrika en op die res van die vasteland het verwoestende uitwerkings op wildlewe en is in sommige gevalle die rede waarom spesies deur uitwissing in die gesig gestaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.