Strafregtelike klagte kom dalk oor toestand van Kakamas-skool

Hoërskool Kakamas se badkamers (Foto: verskaf)

Solidariteit eis dringende optrede van die departement van onderwys om die gesondheid- en veiligheidsomstandighede by Hoërskool Kakamas in die Noord-Kaap te verseker om ʼn “moontlike tragedie” vir leerders en onderwysers te voorkom.

ʼn Ondersoek deur die inspektoraat van die departement van indiensneming en arbeid het gewys dat dié skool nie naastenby aan basiese veiligheidswetgewing voldoen nie. Volgens Solidariteit word leerders en onderwysers by dié skool op ʼn onverantwoordelike wyse aan ernstige gesondheid- en veiligheidsrisiko’s blootgestel.

Die ondersoek dui daarop dat klas- en badkamers verwaarloos en vuil is, dat daar gevaarlike elektriese installasies is, dat ʼn elektriese sertifikaat van voldoening ontbreek en dat brandbestrydingstoerusting klaarblyklik nie in stand gehou word en jaarliks gediens word nie. Basiese noodhulptoerusting en opleiding van personeel in noodhulp ontbreek ook.

Solidariteit sê hy het verlede jaar ʼn skrywe aan die skool gerig om aandag aan dié probleme te gee. Die skool het nie hierop gereageer nie. ʼn Klagte daaroor is ook na die inspektoraat by die departement verwys.

Die departement het die skool in Januarie vanjaar besoek en ʼn kennisgewing uitgereik waaraan die skool binne 60 dae moes voldoen.

ʼn Opvolgbesoek deur die inspektoraat het bevind dat die skool steeds nie aan die probleme aandag gegee het nie en ʼn kennisgewing is uitgereik dat strafregtelike vervolging nou aanbeveel word.

Een van die verwaarloosde klaskamers by Hoërskool Kakamas (Foto: verskaf)

Johan Böning, afdelingshoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en veiligheid, sê die situasie by die skool is onaanvaarbaar.

“Ons sal graag wil sien dat daar voorkomend ingegryp word om ʼn groot tragedie by Hoërskool Kakamas te voorkom. Die skool minag kennisgewings van die inspektoraat om die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid en veiligheidsregulasies na te kom en dit lyk of kriminele vervolging die enigste oorblywende aksie is om die skool te dwing om die wet na te kom”, sê Böning.

Böning beklemtoon dat soortgelyke tragedies reeds in die verlede by skole afgespeel het en daarom doen Solidariteit ʼn dringende beroep op die departement van onderwys om ʼn soortgelyke tragedie te voorkom.

Klasse by die skool gaan intussen voort.

Maroela Media het ʼn navraag aan die Noord-Kaapse departement van onderwys gerig en terugvoer sal bygewerk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rethea ·

Gaan kyk bietjie na Monsterlus High en die meisieskool in Lady Frere, het n aar jaar terug daar werk gedoen en dit was toe al in n haglike toestand

Ore ·

Help asb. Hoe kry ‘n mens ‘n plek in so ‘n toestand? Is leerders vandale of hoe gebeur dit? Ek dink selfs aan die SAPD gebou wat Cele nie wou gebruik nie. Hoe breek ‘n plaffon? Hoe hard moet ‘n toiletbak hanteer word om in stukke te breek? Departemente kan nie altyd pa staan vir sulke verwoesting nie

domheks ·

cANCer moet al die eer kry vir die verwoesting! Geen tug maatreels mag toegepas word nie. Nou laat almal (cele & kie ingesluit) maar net gods water oor gods akker loop. Niemand wil verantwoordelikheid aan vaar nie. Hulle huise lyk seker nie beter nie.

miche ·

Sekere van die Staatshospitale en klinieke se badkamers lyk net so…

Marous ·

Staats skole waar ouers deel is van die beheerliggaam lyk nie so nie. Hul spring self in om dinge in stand te hou. Die armer gemeenskappe is uitgelewer aan die gewentenloosheid van korrupte amptenare. Skande !

koos10 ·

Ore, dis maklik. ‘n Dak lek en word nie reggemaak nie. So 2 jaar dan val die plafon uit weens waterskade. Baie van die geboue in staatsbesit het in die jare 90’s laas onderhoud gesien. Die wat so gelukkig was om “onderhoud” te ontvang na 1994, is deurspek met korupsie en uiters swak vakmanskap.
Dan kom die beskadiging ook tersprake. As daar nie trots gekweek word nie, sal alles vernietig word. In ons demokrasie is ongelukkig afbreek baie meer gewild as opbou.

Papsak ·

Mooi voorbeeld van hoe plekke soos skole en hospitale lyk in nuwe SA lyk dit mooi glad nie vieslik regtig dit nie gewoond nie so wil hulle regeer ????

Lettie ·

Departement het niks met die saak te doen. Dissipline im skole is swak. Onderwysers staan verstom om die vandale te aanskou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.