Strandgangers in Oos-Londen gewaarsku ná haai roeier amper gryp

(Foto: Facebook/Buffalo City Metropolitan Municipality)

Die Buffalo City-metro in Oos-Londen het strandgangers Woensdag gewaarsku om ekstra versigtig te wees wanneer hulle dit in die water waag. Luidens ʼn verklaring van die metro veroorsaak ’n sardientjieloop tans dat talle roofvisse na die waters in die gebied gelok word.

“Hierdie moontlikheid verklaar die haai-aanval wat Dinsdag in Nahoon plaasgevind het.”

Volgens die metro is geen beserings aangemeld nie, maar die roeier se branderski het wel in die slag gebly.

Die Nahoon-strand is Dinsdag ná die voorval as voorsorgmaatreël tydelik gesluit.

Volgens Siani Tinley, die Buffalo City-metro se akwariumbestuurder, is die woelinge in die water normaal vir hierdie tyd van die jaar.

“Die sardientjieloop lok talle seevoëls en soogdiere soos dolfyne en robbe, asook roofdiere soos haaie.

“Wanneer strandgangers voëls in die see sien duik, is die kanse goed dat sardientjies aan die verbygaan is en dat daar roofdieraktiwiteit is.”

Allen Zealand, Buffalo City-metro se bestuurder van strande en ontspanning, sê die sluiting van die strand sal van korte duur wees en sal heel waarskynlik Woensdag deur die loop van die dag opgehef word.

(Foto: Facebook/Buffalo City Metropolitan Municipality)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.