‘Strenger vuurwapenbeheer by polisie nodig’

Argieffoto (Foto: Hansie Linde)

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het ná afloop van die skietdood van die bekroonde kletsrymer Kiernan Forbes, algemeen bekend as AKA, ’n pleidooi vir strenger vuurwapenbeheer gerig.

Die VF Plus en die organisasie DearSA stem saam met Lesufi se versoek en sê dat daar eerste na die polisie- en metropolisie gekyk moet word, wat gereeld hul wapens verloor.

Volgens Kobus Hoffman, ʼn VF Plus-lid in die Gautengse wetgewer, het die VF Plus verskeie kere die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, daarop gewys dat wapens wat as bewysstukke ingedien word uit die polisie se pakkamers gesteel word.

“Dit geld ook vir vuurwapens wat by polisiekantore ingedien word in afwagting van vuurwapenlisensies. Dié vuurwapens beland gereeld in misdadigers se hande,” sê Hoffman.

In Februarie verlede jaar is 175 vuurwapens uit die Norwood-polisiekantoor gesteel. Baie van die vuurwapens is daarna op moord- en rooftonele gevind.

In die 2018‑’19- finansiële jaar is 124 polisievuurwapens in Gauteng verloor of gesteel, in die 2019-’20- finansiële jaar 113 en in die 2020-’21- finansiële jaar 104.

Volgens DearSA het polisiebeamptes tussen 2002-’03 en 2018-’19 altesaam 26 277 vuurwapens as verlore of gesteel aangemeld. Die Global Initiative Against Transnational Organised Crime berig dat daar ongeveer 3,8 miljoen ongeregistreerde onwettige vuurwapens in Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe in omloop is.

AKA Supa Mega (Foto: Ddogc4, eie werk via Wikimedia Commons)

Lt.genl. Mawela en sy sewe generaals het ʼn dringende omkeerplan nodig, sê Hoffman.

“Vuurwapenwetgewing moet streng oor die hele spektrum toegepas word en nie net op die publiek nie. Wetstoepassingslede moet ook met genoeg vuurwapens, ammunisie en voertuie toegerus word om hul taak suksesvol uit te voer. In vele gevalle het misdadigers meer en beter wapens as polisielede.”

Volgens Gideon Joubert, die hoof- uitvoerende beampte van DearSA, is die versterking van huidige wapenwette nie die oplossing vir die werklike kwessie van onwettige vuurwapens in Suid-Afrika nie.

“Ek wil premier Lesufi prys vir die erkenning dat die probleem hier onwettige vuurwapens is, maar dit is nodig dat die staat optree en verantwoordelikheid aanvaar vir sy rol in die stryd teen onwettige vuurwapens,” sê Joubert.

“Die staat is die enkele grootste bron van vuurwapens vir misdadigers weens sy algehele gebrek aan beheer oor sy eie wapens, bewyskaste en die feit dat die polisiediens deur misdadigers geïnfiltreer word. Dit is dus nie net ’n bron van vuurwapens is nie, maar ook ondoeltreffend in die handhawing van basiese regstaat.”

Maroela Media het vroeër berig Forbes en sy vriend Tebello (Tibz) Motsoane, ’n sjef en sakeman, is Vrydagaand buite ʼn restaurant in Durban doodgeskiet. Dit het gebeur toe hulle van die restaurant af na hul motor teruggestap het.

Twee gewapende mans het die straat oorgesteek en op hulle gevuur, het die polisie gesê. Die motief vir die skietery is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jean ·

En as die man met ‘n mes doodgesteek was? Hulle wil altyd die mense wat vuurwapens aanhou vir
selfverdediging ontwapen.

Di ·

Vermoed dat baie van hierdie vuurwapens deur polisielede verkoop word aan sekeres. Begin die polisiesatsies ondersoek waar hierdie vuurwapens so “verdwyn”. Daar is ongelukkig BAIE kriminele in die polisiediens. Kyk maar net na hulle Minister wat self nie sy pos werd is nie.

Andries MT ·

Glo nie hy kan self n wapen hanteer nie, sy hoed druk sy denke vas.

Eugene ·

Lesufi moet sy woorde meer betekenis gee. Hy is bekend daarvoor dat hy sekere mense afkraak. Sê duidelik dat die polisie beheer oor hulle eie vuurwapens moet hê en dat daar streng opgetree moet word teen die wat vuurwapens verloor. Ten minste skorsing sonder betaling en aftrekking van die vuurwapen se waarde van die betrokke persone se salarisse

Nie Verbaas ·

Nee, hy moet afgedank word. Miskien leer die res dan.

[email protected] ·

Ons as publiek word beveel om wapens by hulle te laat om veilig bewaar te word. Voor n lesensie vir n wapen gegee word, word daar verwag dat jy n bevoegdheid moet verkey en n hele klomp goed moet dóén. Nou wil ek net weet watter vereistes word gestel aan die polisie ver veilig bewaring. Moet hulle nie dan strenger hanteer word en 6maandeliks die toetse met n 98% minimum slaagvereiste slaag om die wapen te mag neem vir bewaring nie?? Dit is inderdaad hulle wat wapens laat wegraak. Ek dink n wapen is veiliger by die eienaar op die oomblik. Hulle is nie bevoeg om dit te hanteer of te berg nie.

Waarnemer ·

Nou hoe kan die polisie met meer vuurwapens vertrou word as hulle nie eers beheer het oor een vuurwapen aan sy sy nie?Pre-’94 het jy nooit gehoor van vuurwapens wat by n polisie beampte geroof is nie!!!!

Nie Verbaas ·

Benadruk net weereens hoeveel respek daar vir polisie is en weereens dankie vir die wat nog hulle werk met integriteit doen.

ES ·

Gaan kyk hoeveel handgemaakte messe word in tronke gevind – want selfs in ‘n plek waar wapenbeheer die strengste is, sal bose mense ‘n manier kry om dood te maak – hulle het nie ‘n vuurwapen nodig nie, hulle sal engiets tot hul beskikking gebruik.

Harley Davidson ·

Dit het in Durban gebeur wat het mnr rasisme as premier van Gauteng nou daarmee uit te waai?

Roek ·

Hierdie is SA en deel van Africa, julle sal NOOIT slaag om enige wapen hetsy wettig of onwettig uit die sisteem uit te kry nie, slaag julle met die wettige vuurwapens sal die swartmark oorstroom word indien nie al reeds nie met onwettige wapens , jy kan ‘n Ak na bewering vir R1000 koop in Mosambiek bv!
waar en wat het van die FN en die R1’s geword, kyk gerus mooi na sentraal africa se nuus ,hul gebruik dit daar!! , hoe het dit “wettig”plaas gevind? vra ek !!

Fluisterwind ·

Dit is nie wapens wat vanself mense dood skiet nie, dit is mense wat die wapens gebruik vir die verkeerde redes om ander mense mee dood te maak. Kain gebruik selfs ‘n klip om Abel mee dood te maak. Dit is nie drank op sig self wat jou dronk maak nie, inteendeel is die drank bottel baie eerlik met die persentasie alkohol daarop aangedui, dit is die mens wat die drank misbruik. So kan baie dinge verkwalik word omdat die mens dit verkeerd gebruik en die sonde na-jaag. Straf die onordelikes regverdig sodat hulle hul kan bekeer.

Waarom ·

Ag genade. Daar word elke dag 70 mense vermoor. Maar omdat AKA vermoor is moet als verander. Het nog nooit van AKA gehoor tot nou toe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.