Die NSRI het in ʼn verklaring gesê sy bemanning in Port Alfred is na die toneel geroep nadat die vliegtuig in die rivier beland het. Die SAPD, plaaslike brandweerdienste en die provinsiale nooddienste was ook op die toneel.
“ʼn Seereddingstuig is in die rivier ingestuur en het ʼn 20-jarige vlieënier op ʼn rivieroewer gevind met ʼn ligte enkelenjinvliegtuig wat in die water gedryf het,” het die NSRI gesê. Die vlieënier, ʼn student by die 43 Air School, was die enigste insittende in die vliegtuig en was nie beseer nie. Hy is wel vir skok behandel.
“Dit blyk dat die vlieënier besig was met ʼn navigasie-opleidingsvlug toe hy vermoedelik enjinprobleme ervaar het. Hy het probeer om ʼn noodlanding te maak, maar die vliegtuig se vlerk het ʼn heining getref en die vliegtuig in die rivier ingestuur.”
Die vliegtuig is later deur verkeersbeamptes en lede van die SANParke-owerheid uit die water gehaal.
Attie Nieman, uitvoerende hoof van die 43 Air School, het die student geloof vir sy noodlanding in ʼn baie moeilike gebied naby die rivier.
Die burgerlike lugvaartowerheid sal die voorval ondersoek.
Hy kan maar sy vlerkies kry!