Studie vind geen styging in selfdood tydens pandemie

Foto: Nik Shuliahin/Unsplash

Hoewel daar ’n drastiese toename in selfdoodgevalle ná die uitbreking van die Covid-19-pandemie verwag was, het ʼn onlangse studie geen styging in gevalle gedurende hierdie typerk gevind nie.

Dít is volgens ’n nuwe internasionale studie oor die uitwerking van Covid-19 op selfdood- en selfbeseringskoerse in lae- en middelinkomstelande (LMIL’e). Die navorsing is onder leiding van dr. Duleeka Knipe van die Instituut vir Bevolkingsgesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Bristol, deur ’n groep wetenskaplikes van regoor die wêreld onderneem.

Dít sluit wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) in.

Die bevindings van hul studie het onlangs in die vaktydskrif PLOS Global Public Health verskyn.

Dít moet egter versigtig geïnterpreteer word, aangesien dit op data uit slegs 12 van die 135 LMIL’e gegrond is omdat akkurate intydse selfdoodinligting nie in die meeste LMIL’e beskikbaar is nie.

Luidens ʼn verklaring wat Dinsdag deur die US uitgereik is, het navorsers stelselmatig bewyse oor die uitwerking van die pandemie op selfdood en selfbesering in LMIL’e versamel en opgebou. Dít is gedoen as deel van ’n deurlopende sistematiese oorsig wat navorsing oor selfdoodgedrag deur ’n omvangryke geoutomatiseerde soektog in veelvoudige databasisse in alle tale identifiseer en vergelyk.

Die navorsers het dié uitgebreide databasis gebruik om alle studies met inligting oor die uitwerking van die pandemie op selfdoodsterftes en koerse van selfbesering in LMIL’e, te identifiseer. Die gehalte van die studies en die metodologie wat gebruik is, is ook in aanmerking geneem om te verseker dat swak-ontwerpte studies met onbetroubare inligting nie hul bevindings besoedel nie.

“Die kragtigste bewyse, afkomstig uit tydreeksstudies, het óf ’n afname, óf geen verandering  in selfdood en selfbesering in LMIL’e na aanleiding van die pandemie getoon nie,” het prof. Jason Bantjies van die SAMNR en die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing by die US, gesê.

“Hierdie bevindings is belangrik en laat interessante vrae onstaan oor die redes waarom ons nie enige veranderings in selfdoodkoerse na aanleiding van die pandemie in LMIL’e vind wanneer ons na die beste beskikbare data kyk nie.”

Bantjies sê dit beteken egter nie dat die pandemie nie sosiale en sielkundige angs en ekonomiese teëspoed veroorsaak het nie, maar dat dit uit die beskikbare bewyse lyk asof dit nie ’n toename in selfdoodgedrag op ’n totale bevolkingsvlak tot gevolg gehad het nie.

Volgens Bantjes weerspieël hierdie bevinding die resultate van ’n vorige studie wat in The Lancet Psychiatry verskyn het.

Hierdie studie het bevind dat selfdoodkoerse in hoëinkomstelande ook onveranderd gebly of afgeneem het in die vroeë fase van die pandemie, in vergelyking met verwagte vlakke van selfdoodneigings vóór die pandemie.

Afrika

Die studie het verder bevind dat daar ʼn afwesigheid van betroubare selfdoodinligting uit Afrika is.

“Dit is nie heeltemal ’n verrassing nie, aangesien die voorkoming van selfdood en selfbesering nie as een van die belangrikste openbare gesondheidsprobleme in die streek beskou word nie.”

Die gevolg is dat navorsing oor hierdie kwessie hoofsaaklik weens ernstige tekorte aan hulpbronne in gesondheidsorg en verskeie dringende gesondheidsuitdagings, histories nie ’n prioriteit was nie – iets wat wel die geval in hoëinkomste- en Westerse lande is.

Bantjes sê dit is weens die afwesigheid van betroubare epidemiologiese inligting oor selfdood in Afrika onmoontlik om ’n akkurate bepaling van die volle uitwerking van Covid-19 te bepaal en om bewysgebaseerde selfdoodvoorkomingstrategieë in die streek te beplan.

Hy meen internasionale organisasies soos die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Afrika-unie moet in sterk selfdoodnavorsingsnetwerke en bewysgebaseerde voorkomingsintervensies in Afrika belê en dit ondersteun.

Akkurate inligting ontbreek in meeste LMIL’e

Volgens Bantjies het die meeste van die studies wat ondersoek is, staatgemaak op data wat in die eerste maande van die pandemie ingesamel is en die gehalte van hierdie studies was oor die algemeen swak.

“Verder ondervind navorsing op hierdie gebied tipies ’n gebrek aan vergelykbare vóór-Covid-inligting om ’n behoorlike bepaling van die ware uitwerking van die pandemie op selfdoodkoerse moontlik te maak.”

Volgens Bantjies bied selfdooddata wel rede tot optimisme, maar die samewlewing waaksaam bly oor moontlike toenames in selfdoodkoerse in die toekoms.

“Bowenal moet ons voortgaan om te verseker dat die kwesbaarste mense sielkundige en sosiale ondersteuning ontvang, aangesien ons nog moet vasstel watter blywende uitwerking die pandemie op koerse van geestesiektes wêreldwyd gaan hê.”

 *Selfdood kan voorkom word en hulp is beskikbaar. Enigiemand in Suid-Afrika wat selfdoodgedagtes ondervind, moet met iemand gesels wat hulle vertrou, of hul dokter raadpleeg, of in aanraking kom met een van die 24-uur-hulplyne soos die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (0800 567 567). 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Moes mooilik gewees het as jy 26 Maart 2020 saam met jou kerel/meisie of verloofde jouself toe gesluit het, en na twee maande kon julle mekaar nie meer verdra nie. maar moes nog 2/3 maande saam toegesluit wees!

Anel ·

Wonder wie is die 12 lande wat aan die studie deel geneem het? Dan kan dit vir mens baie sê…!

Robert ·

Hierdie is ‘n clue hoekom die uitslag bevind is… “Dít sluit wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) in.” A;be bedmaats met die WGO en WEF.

Johan ·

Jy slaan die spyker op sy kop Robert. US kan maar hul deurtjies sluit, broederbond en al.

Truthful ·

Ek glo nie .n woord van die berig….. Daar is deesdae baie desperate ongelukkige mense in ons land…mense sien geen toekoms in die land…maak .n ordenklike opname wyd en suid en vra suid afrikaners hoe hulle rerig voel oor die land…familie lede wat kinders vergiftig…vroue gooi babatjies in asblikke kyk wyer as net selfmoord…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.