Subsidies gesny, maar skoonheidsakademie kry R64 miljoen

Die Beauty Hub Academy in Johannesburg. (Foto: GroundUP)

Deur Raymond Joseph en Ella Morrison, GroundUP

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het binne ʼn jaar ruim toelaes van meer as R56 miljoen aan twee vaardigheidsontwikkelingsorganisasies toegeken. Een daarvan is ʼn skoonheidsakademie.

Dít terwyl die finansiering van organisasies sonder winsbejag, onder meer instellings wat mense met MIV en bejaardes ondersteun, in die einste jaar gesny moes word.

Finansiële state toon dat R30 miljoen tydens die 2023-’24-boekjaar aan die Beauty Hub Academy in Johannesburg toegeken is. Daracorp, ’n rakmaatskappy, het gedurende dié boekjaar R26 miljoen in staatsubsidies ontvang.

Hierdie twee instellings het ook gedurende die vorige boekjare miljoene rande in toelaes ontvang; Beauty Hub het R33,7 miljoen gekry en Daracorp R23,9 miljoen – wat neerkom op ʼn gesamentlike totaal van R113,7 miljoen oor twee jaar.

Lisa Vetten, ʼn navorsingsgenoot by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se Suidelike Sentrum vir Ongelykheidstudies, sê die departement het in April verlede jaar ernstige besnoeiings in sleutelfinansiering voorgestel.

Volgens Vetten sou die voorstelle beteken dat R418 miljoen van organisasies sonder winsbejag wat welsynsdienste verskaf, besnoei sou word. Dié geld sou dan glo herlei word na die departement se navorsing- en ontwikkelingsprogram, asook sy armoedeverligtingsinisiatiewe.

Die departement het later sy begroting hersien en die bedrag wat aan bogenoemde organisasies toegeken is, is met R233 miljoen verminder.

Daracorp en Beauty Hub se finansiering was egter byna onaangeraak.

Die twee organisasies se staatsubsidie het dié van enige ander organisasie in 2022-’23 ver oortref. Terwyl Beauty Hub meer as R33 miljoen en Daracorp byna R24 miljoen ontvang het, het die meeste ander organisasies minder as R1 miljoen elk ontvang van die byna R2,3 miljard in fondse wat aan organisasies sonder winsbejag betaal is.

Wie is Beauty Hub Academy?

Dié akademie, wat opleiding in haarkappery en skoonheidsterapie aan mense aanbied wat maatskaplike toelae ontvang, is as ʼn private, winsgewende maatskappy én ʼn organisasie sonder winsbejag geregistreer.

Die akademie se webwerf maak egter geen melding van ʼn niewinsbejag-arm nie.

Volgens Nkosana Mtolo, woordvoerder van die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het Beauty Hub in die 2022-’23-boekjaar R33,7 miljoen vanaf die departement se programme vir vroue-ontwikkeling, welsyn-tot-werk, armoedeverligting en jeugontwikkeling ontvang.

Die skoonheidsakademie sal ook meer as R30 miljoen in vier kwartaallikse dele in die 2023-’24-boekjaar ontvang.

Mtolo het by navraag gesê Beauty Hub word gefinansier om 565 mense in 2022-’23 op te lei, met ʼn verdere 565 wat in 2023-’24 opleiding moet ontvang. Dit beteken dat Beauty Hub oor die twee jaar 1 130 studente moes oplei teen ʼn gemiddeld van meer as R56 000 per persoon.

Volgens Mtolo word Beauty Hub se studente, almal begunstigdes van maatskaplike sekerheidstoelae, ten volle gesubsidieer. Hul kursus word dus ten volle deur die departement gedek en hulle ontvang ʼn daaglikse ete- en reistoelaag.

Mtolo sê 315 begunstigdes van Beauty Hub het reeds werk gekry en tien het hul eie salonne op die been gebring.

Meer oor Daracorp

Daracorp, wat opleiding vir kleinskaalse landelike en stedelike boere aanbied, het die eerste keer in 2021-’22, binne ʼn jaar nadat dit geregistreer is, ʼn toelaag van R3,75 miljoen van die departement ontvang.

Die organisasie het in die 2022-’23-boekjaar byna R24 miljoen onder die vroue-ontwikkelingsprogram ontvang en ʼn verdere R26,1 miljoen in die huidige boekjaar.

Daracorp is in Maart 2019 as ʼn rakmaatskappy sonder winsbejag geregistreer en nuwe direkteure is aangestel toe dit in Maart 2020 van die rak af gekoop is. Drie maande later is Daracorp ook as ʼn organisasie sonder winsbejag geregistreer.

“Hierdie program is een van die min wat in ʼn stedelike omgewing ingestel word,” sê Thomas Ngubane, voorsitter van Daracorp.

Die organisasie maak glo gebruik van ʼn “koöperasiemodel” om op hoër skale te produseer, terwyl diegene wat aan sy voedseltuine-program deelneem daaglikse staatsgefinansierde maaltye by gemeenskapsvoedingsontwikkelingsentrums ontvang.

“Die uniekheid van ons program is dat dit ʼn waardekettingbenadering van kommersialisering van kleinskaalse boere kombineer met ʼn voedselsekerheidselement in ʼn stedelike omgewing met die benutting van ongebruikte staatsgrond as projekterreine,” het Ngubane gesê.

“Die program is ontwerp om die begunstigdes te help om hul eie kos te produseer, hulle toe te rus met boerderyvaardighede en ondernemings te skep wat hulle in staat stel om geld uit boerdery te maak terwyl hulle staatsgrond wat onderbenut of glad nie benut word nie, gratis gebruik.”

Op die vraag oor waarom Daracorp miljoene rande ontvang nadat dit minder as drie jaar gelede geregistreer is, het Mtolo geantwoord dat daar geen spesifieke vereiste is oor die aantal jare wat ʼn organisasie moet bestaan voor dit gefinansier kan word nie.

Tekort aan deursigtigheid

In ʼn verslag vir die portefeuljekomitee vir maatskaplike ontwikkeling in die Gautengse wetgewer het navorser Nonhlanhla Jikolo vrae geopper oor die departement se toewysing van geld aan maatskappye sonder winsbejag en die probleme om uitsette in vergelyking met uitgawes te assesseer.

Sy het ook vrae gestel rakende die gebrek aan gedetailleerde inligting wat aan die portefeuljekomitee verskaf is en probleme met die beoordeling van oorbesteding deur die departement.

“Mense wat op maatskaplike dienste staatmaak, leef in baie moeilike, dikwels behoeftige omstandighede. Hulle moenie teen mekaar meeding vir die prys van wie die meeste maatskaplike bystand verdien nie,” sê Vetten op haar beurt.

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die soustrein se wiele is af. Maar nou het hy vlerke.

Ryan ·

Dit klink vir my meer na georganiseerde misdaad. Plundering van belastingbetalers se geld met toestemming van die staat.

Lourens ·

Hoe registreer ‘n maatskappy as winsgewend? Ek dog dis ‘n resultaat?

Bolandse Nooi ·

Aan watter ANC-kader se antie-se-oom-se-agter-kleinniggie-se-neef-se-dogter-se-voorkind behoort hierdie “vaardigheidsontwikkelingsorganisasies”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.