Talle vrae oor Jhb se Covid-19-besteding

(Foto: pixabay)

Die DA in Johannesburg sê ondanks ʼn raadsbesluit dat weeklikse bywerkings verskaf kan word, ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia), vrae aan die burgemeester en versoeke van die oorsigkomitee is daar steeds geen duidelikheid oor presies hoe die stad R600 miljoen aan Covid-19-maatreëls bestee het nie.

Die party sê voorlopige ouditverslae dui daarop dat die ANC-administrasie se huidige onregmatige besteding meer as R400 miljoen beloop.

“Ons weet nie hoe die stad se geboue gesaniteer is, hoe die departement van ekonomiese ontwikkeling informele handelaars en KMMO’s (klein-, mediumgrootte- en mikro-ondernemings) help, hoekom die stad se amptenare weens ongerymdhede nie betyds maskers gekry het nie, of wat die plan vir toenemende haweloosheid in die stad is nie,” het Leah Knott, die DA se koukusleier in Johannesburg, gesê.

Knott sê die Wembleystadion-tentdorp moes skuiling aan 1 200 mense verskaf, maar het in hierdie stadium net 54 inwoners. Die algehele koste van die projek is ook nie bekend nie, al is die kontrak daarvoor as onregmatig uitgewys.

Volgens haar bevat die lys van skenkings van persoonlike beskermingstoerusting (PPE’s) geen besonderhede nie en weet niemand watter hoeveelhede ontvang is en wat steeds aangekoop moet word nie.

“Feite en syfers verskil van die een verslag na die volgende. Munisipale owerhede se besteding wissel van R4 miljoen in een verslag en geen geld in die verslag nie en wanneer hulle in komiteevergaderings uitgevra word, is die besteding glo net R50 000,” het Knott gesê.

Sy sê hoewel die burgemeester aanvoer dat niemand se elektrisiteit op vlak 3 van die afsonderingsregulasies afgesny is nie, is daar ʼn verslag wat lui dat 350 rekeninge afgesny  is.

Knott sê terwyl die stad op sy inwoners toeslaan, skuld provinsiale en nasionale staatsdepartemente die stad amper R1 miljard vir dienste.

Nadat die raad geweier het om ʼn omvattende verslag oor die Covid-19-besteding aan die raad voor te lê, het die DA en EFF uit die raadsvergadering gestap. Die ANC het daarna nie genoeg van sy eie lede gehad om die vergadering voort te sit nie.

Die DA het geëis dat die volledige verslag Donderdagoggend voorgelê moet word. Indien nie, sal die party nie deel wees van die raadsvergadering waar die ANC “niks meer as ʼn halfgebakte, gesuiwerde verklaring voorlê in ʼn poging om sy korrupsie toe te smeer nie”, het Knott gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.