Thys die Bosveldklong: ‘Sy kop bly sterk, hy baklei hard’

Thys die Bosveldklong kuier in Oktober 2023 by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Thys Streicher, bekend as Thys die Bosveldklong, veg nog om sy lewe in die hoësorgeenheid van ʼn Pretoriase hospitaal, nadat hy onlangs eers breinvleisontsteking gehad en daarna ʼn beroerte gehad het.

Thys se medekunstenaar en vriend, LJ, tree as woordvoerder vir die familie op en sê Thys sou na ʼn ander hospitaal oorgeplaas word, maar hy is te swak om oorgeplaas te word.

Die omvang van die skade van die beroerte is egter nog nie bepaal nie.

“Sy kop bly egter sterk, hy baklei hard.”

Die grapjas-sanger, TV-aanbieder en radio-omroeper se gesondheid ry wipplank sedert veelvoudige sklerose (MS) in 2019 by hom gediagnoseer is.

Thys op die verhoog, voordat hy siek geword het. (Foto: Verskaf)

Hy was vir ʼn ruk bedlêend weens die siekte en het sedert sy diagnose behandeling ontvang wat hom weer beweeglik gemaak het. In 2022 was hy weer gereed om die verhoog te betree.

Volgens LJ is Thys se bejaarde ma, Elize, uiters dankbaar vir die ondersteuning en gebede van die publiek.

“Dit is vir tannie Elize baie swaar, want dit is haar tweede kind met wie sy ʼn moeilike gesondheidspad moet stap. Tannie Elize se geloof is ongelooflik sterk, sy probeer baie hard om positief te bly.”

Thys se broer, Piet Streicher, is in 2016 aan kanker oorlede.

Medelye van vriende en aanhangers het intussen op Facebook ingestroom, met talle mense wat vra vir gebed vir Thys en sy familie.

Ian Bossert, vriend en kollega van Thys, het Saterdag gesê ʼn aantal geldinsamelings word op sosiale media van stapel gestuur.

“Hoewel dit vir ons wonderlik is dat sy ondersteuners wil help, is dit vir ons uiters moeilik om te koördineer. Sy ma word oorval met oproepe, en ons vra dat dié wat wil help asseblief eerder vir [Thys se medekunstenaar] LJ by 066 293 8428 kontak.”

ʼn Gholfdag word beplan ten bate van Thys se mediese onkostes en ander uitgawes. Die gholfdag word op 28 Mei by die Akasia-gholfbaan in Pretoria-Noord gehou.

Alle navrae rakende die gholfdag word deur WePlayGolf hanteer. Skakel Cheney by 072 055 6648.

Hierdie berig is gewysig nadat dit aanvanklik gepubliseer is. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leeubekkie ·

Baie sterkte aan Thys en familie. Mag die Here hom volkome genees.

JOHN ·

Ons bid hard vir jou gesondheid, Thys ! Bly aan die voete van die Here. Alle sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.