Tien jaar tronkstraf ná appèl

(Foto: Shutterstock)

Lynette Martha Magdalena Joubert (60) wat appèl aangeteken het toe sy in 2017 vyftien jaar tronkstraf opgelê is in verband met diefstal, is Woensdag weer skuldig bevind en is 10 jaar tronkstraf opgelê.

Ao. Amogelang Malwetse, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê Joubert is in 2017 skuldig bevind op 64 aanklagte van diefstal van byna R600 000.

Die beskuldigde het ʼn maatskappy besit wat die gemeenskap van Lichtenburg bygestaan het om betalings namens hulle aan die verkeersdepartement te maak vir voertuiglisensies en -registrasies.

ʼn Ondersoek in 2016 deur die Valke se eenheid in Mahikeng wat ernstige handelsmisdaad ondersoek, het onthul dat ʼn bedrag van R596 593,08 van verskeie slagoffers nooit aan die betrokke owerheid oorbetaal is tussen Julie en September 2015 nie.

“Die beskuldigde het vervalste bewyse van betaling van Standard Bank en Absa aangestuur in ʼn poging om haar diefstal te verbloem.”

Sy is in Desember 2017 skuldig bevind op 64 aanklagte van diefstal en is 15 jaar tronkstraf opgelê. Sy het egter ʼn spesiale hersieningsaansoek ingedien kragtens die Wet op Strafregtelike Prosedure in die Noordwes-hooggeregshof teen haar skuldigbevinding en vonnis.

“Haar skuldigbevinding en vonnis is in Maart tersyde gestel en die hof is beveel om van voor af met die hofsaak te begin. Dit het beteken dat sy in Maart 2018 uit die tronk vrygelaat is ná sy 267 dae van haar 15 jaar-tronkstraf uitgedien het.”

Ná ʼn deeglike ondersoek deur die Valke in Mahikeng is Joubert in Mosselbaai in die Wes-Kaap opgespoor. “ʼn Dagvaarding is in Augustus 2021 op haar beteken vir haar eerste verskyning by die Lichtenburg-streekhof in November 2021. Sy is weer aangekla van 64 aanklagte van diefstal.”

Ná ʼn rits verskynings in die hof is Joubert skuldig bevind op alle aanklagte ná sy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Sy is Woensdag in die Mmabatho-streekhof tien jaar tronkstraf opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.