Toeris van Tafelberg gered

(Foto: Brent Russel)

ʼn 29-jarige toeris is Saterdag van Tafelberg gered ná hy op ʼn roete hoog op die berg geval het.

Lede en vrywilligers van die Wilderness- soek-en-reddingspan (WSAR) is ontbied om die man by te staan. “Volgens die pasiënt het hy vroeër die dag in Kaapstad aangekom en dadelik die berg uitgeklim. Ondanks die feit dat hy van ʼn baie kouer klimaat af kom, het die warm weer Saterdag hom nie ontmoedig om Tafelberg uit te klim nie.”

Die kwik het Saterdag in die stadskom tot meer as 34° C gestyg.

“Hy het deur die warmste deel van die dag gestap toe hy gestruikel en geval het. Hy het sy arm gebreek,” het WSAR bygevoeg.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid se EMS/Air Mercy Service (AMS)-reddingshelikopter is na die toneel ontplooi. ʼn Reddingsklimmer en paramedikus is van die helikopter afgesak tot by die pasiënt. Hy is op die toneel ondersoek voor hy in ʼn reddingsharnas opgehys is tot in die helikopter. Die AMS-helikopter het by ʼn nabygeleë landingstrook geland en die man is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem.

“Hy het waarskynlik by Tafelbergweg weggespring,” sê David Nel, woordvoerder van WSAR. “Hy was op ʼn vae toegegroeide roete hoog op die berg – ver weg van die meer gewilde roetes af. Dit was baie warm en dit was vir die reddingspan vreemd dat hy nie ʼn rugsak of water by hom gehad het nie.”

Nel sê besoekers vergeet soms dat, alhoewel Tafelberg in die middel van die stad is, dit steeds ʼn berg is en gerespekteer moet word. “Ons is geseënd met so ʼn mooi en aangrypende bergpark in die middel van Kaapstad. Terwyl ons almal, besoekers en plaaslike inwoners, aanmoedig om die berg te verken, is daar ʼn paar beginsels wat jy altyd in gedagte moet hou.”

Nel sê dié reëls sluit in om nooit alleen te gaan stap nie en altyd op die roete te bly. Moenie oor die warmste deel van die dag stap nie, dra gepaste klere en dra meer water by jou as wat jy dink jy gaan nodig hê. Maak seker dat jy ook voorbereid is indien die weersomstandighede verander en pak bykomende warm klere in.

“Maak ook seker dat jy altyd die noodnommer 021 937 0300 op ʼn selfoon gestoor het wat ten volle gelaai is.”

WSAR wens die toeris ʼn spoedige herstel toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.