Tronk toe naweke; werk deur week om Jan Taks te betaal

(Foto: Unsplash)

ʼn Kaapstadse sakeman moet naweke tronkstraf uitdien en deur die week werk om die geld waaruit hy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bedrieg het, te probeer terugbetaal.

Die Kaapstadse streekhof het Stirling Ray Abrahams (56), die eienaar van Blaizepoint Trading, ʼn boete van R100 000 en 2 000 uur periodieke tronkstraf opgelê nadat hy op verskeie bedrogklagte skuldig bevind is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Abrahams is skuldig bevind op aanklagte van BTW-bedrog, inkomstebelastingbedrog en roekelose handeldryf. Die inkomstebelastingbedrog het sowat R440 000 beloop en die BTW-bedrog net meer as R1 miljoen.

Abrahams moet nou naweke by die Goodwood-tronk aanmeld en deur die week werk om die geld aan die SAID terug te betaal. Indien hy versuim om dit te doen, sal hy ses jaar agter tralies moet deurbring.

Abrahams het boonop twee rekenmeesters ingespan om inkomstebelasting- en ander opgawes namens sy onderneming in te dien. Adv. Thozama Plaatjie-Mbodlana, ʼn staatsaanklaer verbonde aan die spesialisbelastingeenheid, het aan die hof gesê dié boekhouers het staatgemaak op inligting wat Abrahams aan hulle gegee het. Hy het boonop nooit alle dokumente aan hulle voorsien nie.

“Hulle het die inligting wat aan hulle gegee is, gebruik om die opgawes in te dien. Dit het fakture en spreitabelle ingesluit. Voor die opgawes ingedien is, het hulle saam met die beskuldigde daardeur gewerk om seker te maak die inligting in die opgawes dra sy goedkeuring weg. Dit is daarna by die SAID ingedien,” het Plaatjie-Mbodlana aan die hof gesê.

“Dit is ʼn baie ernstige misdaad om die SAID te bedrieg en dit is iets wat geil in ons samelewing voorkom. Die beskuldigde het vantevore amnestie gekry en steeds gee hy nie gehoor nie. Hy het belastinggeld gebruik om sy sakeonderneming en luukse leefstyl te finansier,” het sy gesê.

Die skuldigbevinding volg op ʼn gesamentlike ondersoek deur die SAID, die polisie en die vervolgingsgesag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Deon ·

Dis lekker… Waar gaan hy werk? Kan ek ook tydelike tronstraf uitdien as ek dit doen? Waar werk hy? Wat se werk kan hy wettig doen? Dan laastens, is dit n “wettiglike korrekte” straf?

Anel ·

Dis beter as wat heeldag op sy bas in die tronk sit en niks doen nie en ons, die belastingbetalers moet vir hom sorg. Wens hulle wil dit met almal doen. Moet die spul op plase laat werk sodat hulle kan sien waar die kos vandaan k9m. Produkte kan verkoop word en winste kan aangewend word om staatskuld te delg. Hulle kry niks.

Tino ·

Ek dink dit is ‘n fantastiese konsep, maak hom nie afhanklik van die stelsel nie en leer hom ‘n les.

pompies ·

Dit klink na n goeie idee, kleintyd het ek altyd die gevangenis gesien werk in die parke en strate met n wag wat hulle opgepas het. Hulle het die paaie skoon gemaak rommel opgetel en dies meer. Laat hulle werk dan sal hulle ook weet dit is nie vir sit en niks doen nie, riviere en plastiek sakke en gemors wat nou net rond le kan dan skoon gemaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.