Tronkstraf vir Kruger-veldwagter wat renoster stroop

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SANParke)

ʼn Voormalige veldwagter van die Krugerwildtuin is tien jaar direkte tronkstraf in die Skukuza-streekhof opgelê vir die stroop van een van dié wildtuin se renosters.

Eckson Musa Matumba (41) was in September 2020 aan diens toe hy die renoster gestroop het met ʼn amptelike vuurwapen wat aan hom uitgereik is.

Matumba het destyds beweer dat die renoster hom gestorm het en dat hy die dier bloot uit selfverweer doodgeskiet het.

Die hof het egter dié weergawe van gebeure verwerp.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Matumba en nóg ʼn veldwagter is op 22 September 2020 by die Nwanetsi-afdeling van die Krugerwildtuin ontplooi toe Matumba sy kollega agtergelaat het.

Matumba het ʼn renoster doodgeskiet voordat hy terug is na sy kollega.

“Hy het gemaak asof niks gebeur het nie. Toe hy oor die renoster gekonfronteer is, het hy beweer dat die renoster hom gestorm en hy dus uit selfverdediging geskiet het.”

“Die beskuldigde het in die hof onskuldig gepleit. Aanklaer Lot Mgiba het getuienis van ʼn deskundige gelei om die staat se saak te bewys. Daar is bewys dat die renoster nié die beskuldigde gestorm het toe die dier geskiet is nie. Ander getuienis het bevestig dat die beskuldigde in ʼn knielende posisie was toe hy die renoster geskiet het.”

Matumba is gevolglik Vrydag skuldig bevind aan die stroop van ʼn renoster.

Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het die skuldigbevinding en vonnis verwelkom.

“Ons is tevrede met die vonnis, want dit wys dat die wet nie selektief is nie en handel oor almal wat by misdadige aktiwiteite betrokke is,” sê Oscar Mthimkhulu, uitvoerende bestuurder van die Krugerwildtuin.

“Ek hoop ons kollegas sal uit hierdie saak leer dat die wet jou sal inhaal ongeag jou posisie. Ons waardeer ook die Skukuza-streekhof vir die volgehoue ​​skuldigbevindings en vonnisse sonder versuim.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Dis reg laat die skelm sit! Hulle word in poste aangestel en doen dan presies die teenoorgestelde as waarvoor hulle aangestel is, om die wild te beskerm.

Jan ·

Goeie werk. Nou moet hy sê wie sit agter dit want hy’s net die stroper. Soek nou die koper ook

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.