Tronkstraf vir mans wat vulstasies beroof

(Argieffoto: Unsplash)

Sewe mans is elk tussen 15 en 25 tronkstraf deur die hooggeregshof in Pretoria opgelê nadat hulle verskeie geriefswinkels in en om Pretoria beroof het.

Die vonnisse volg nadat Advice Shaku (22), Thibetso Phale Mashabela (26), Fix Lebotsa (56), Thapelo Mphahlele (33), Tebatso Mangope (28) en Cyril Sekele (26) aan roof met verswarende omstandighede, poging tot moord en die besit van onwettige vuurwapens skuldig bevind is. Mashabela is ook aan die onwettige besit van ammunisie skuldig bevind.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in Gauteng, het die mans elke keer dieselfde modus operandi gevolg om die winkels te beroof. Hulle sou die winkels betree, maak asof hulle inkopies doen en dit dan beroof.

Die rooftogte is tussen 26 September en 24 November 2018 uitgevoer. Die groep is ná hul laaste rooftog in die Mamelodi-omgewing in hegtenis geneem.

Hulle het minstens ses winkels by Engen-vulstasies en twee by Total-vulstasies beroof, asook ’n Kentucky Fried Chicken- en Debonairs Pizza-kitskosrestaurant. Rooftogte is ook by ’n Sasol‑, Shell‑, Caltex‑ en MBT-vulstasie uitgevoer.

Vyf van die sewe mans is sedert hul inhegtenisneming in aanhouding, terwyl Sithole en Seleke eers ná hul skuldigbevinding in Augustus vanjaar in aanhouding geplaas is.

Die mans het in die hof onskuldig op die aanklagte teen hulle gepleit.

Ter verswarende vonnisse het adv. Molatlhwa Mashuga in die hof aangevoer dat die sewe mans as ’n groep opgetree het om die misdade te pleeg.

“Ten tyde van die oortredings het die mans almal ’n inkomste verdien, so hulle het uit gierigheid opgetree en nie uit nood nie. Die slagoffers is getraumatiseerd en wou nie eers aan ’n uitkenningsparade deelneem nie omdat hulle te bang was.”

Om dié rede het Mashuga die hof vir swaar vonnisse gevra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

En so is dit dwarsoor die land onder mense….mammon is n nare ding

Jixy ·

“Ten tyde van die oortredings het die mans almal ’n inkomste verdien, so hulle het uit gierigheid opgetree en nie uit nood nie.”

Om dié rede het Mashuga die hof vir swaar vonnisse gevra.

So indien hulle nie n inkomste gehad het ten tyde van die oortredings nie dan sou ons hulle maar kon verskoon? Dis absoluut belaglik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.