Die Nigeriese pastoor wat van mensehandel en die seksuele misbruik van nagenoeg 30 meisies in Suid-Afrika beskuldig word, sal Vrydag in die Port Elizabeth-hooggeregshof hoor of hy borgtog kry.
Daar is op 29 Augustus ʼn bykomende klag van onwettige betreding by die klagstaat gevoeg. Die polisie moet intussen die beskuldigde na die departement van binnelandse sake vergesel sodat hy kan aansoek doen vir die verlenging van sy algemene werkspermit.
Die pastoor het regsverteenwoordigers van die firma McLoughlin Porter in Vereeniging aangestel. Sy naam word weerhou totdat hy in die hof gepleit het.
Maroela Media het vroeër berig dié omstrede pastoor (58) wat op 20 April in hegtenis geneem is op aanklagte van mensehandel, het glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en Brittanje bestuur, en het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van dié kerke na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, geneem waar hy hulle glo seksueel misbruik het.
Hy kom te staan voor nagenoeg 22 klagte van mensehandel en seksuele misbruik.
Sy aansoek om borgtog is verlede maand geweier toe landdros Thandeka Mashiyi bevind het hy is ʼn vlugrisiko en sou waarskynlik met staatsgetuies inmeng. Die evangelis het egter weer ʼn borgtogaansoek gebring met beweerde nuwe feite in die saak.