Twee dood ná skietery op M13

Paramedici was kort na die voorval op die toneel. (Foto: Emer-G-Med/Facebook)

Twee mans is Donderdagaand doodgeskiet nadat ʼn skietery tussen vermeende rowers en owerhede op die M13-snelweg in KwaZulu-Natal uitgebreek het.

Die oorledenes is deel van ʼn groep mans wat na bewering vroeër daardie dag ʼn winkel in Estcourt bestorm en beroof het.

Konst. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het glo om 17:30 selfone en kontant by ʼn onderneming gebuit voordat hulle op die vlug geslaan het.

Die polisie is van die rooftog in kennis gestel en die inligting is aan die plaaslike veiligheidsmaatskappy oorgedra om op die uitkyk vir die vermeende rowers se motor te wees.

“Inligting is ontvang dat die verdagtes in die rigting van Durban ry. Om 19:00 het lede van die Phoenix-polisiestasie die verdagtes se motor op die M13-snelweg gewaar en hulle agternagesit,” sê Ngcobo.

“Die verdagtes het in die rigting van die St. John’s -oprit gevlug waar daar ʼn skietgeveg tussen die betrokke owerhede uitgebreek het.”

Paramedici van Emer-G-Med is na die toneel ontbied waar hulle twee van die verdagtes met noodlottige skietwonde aangetref het. Hulle is op die toneel dood verklaar.

“Een van die verdagtes het wel daarin geslaag om inhegtenisneming te ontduik en hy word steeds deur die polisie gesoek.”

Nie een van die polisielede of lede van die veiligheidsmaatskappy het beserings opgedoen nie.

Die polisie het ʼn pistool en ammunisie langs die verdagtes wat geskiet is, aangetref en daarop beslag gelê. ʼn Aantal selfone wat glo tydens die rooftog in Estcourt gebuit is, is ook op beslag gelê.

Die ondersoek het tot dusver aan die lig gebring dat die verdagtes se vuurwapen moontlik by ʼn ander rooftog in KwaMashu verlede maand gebruik is.

Die polisie ondersoek tans ʼn saak van poging tot moord, onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, asook die besit van moontlik gesteelde goedere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.