Twee nuwe regters vir Konstitusionele Hof

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Pres. Cyril Ramaphosa het twee nuwe regters in die Konstitusionele Hof aangestel ná oorlegpleging met hoofregter Mogoeng Mogoeng, asook partyleiers in die parlement.

Regters Zukisa Laura Lumka Tshiqi en Stevan Arnold Majiedt se aanstellings tree op 1 Oktober in werking, het die presidensie Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Ramaphosa het die aanstellings gedoen uit ʼn lys van vyf benoemings wat die Regterlike Dienskommissie (RDK) opgestel en voorgelê het. Die RDK het in April vanjaar onderhoude gevoer ná voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke en regter Bess Nkabinde se uittrede.

Die president het gesê hy is vol vertroue dat Tshiqi en Majiedt ʼn beduidende bydrae tot die land se hoogste hof sal lewer.

Tshiqi (58) het ʼn regsgraad, asook ʼn nagraadse diploma in arbeidsreg en het haar loopbaan in 1986 as regskoördineerder by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke begin. Sy het in 1989 met haar klerkskap begin en as prokureur gepraktiseer tot sy in 2005 as regter in die Johannesburgse hooggeregshof aangewys is.

Tshiqi het jare lange ervaring as bemiddelaar en fasiliteerder by onder meer die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) en as bemiddelaar by die Grondeisekommissie.

Sy was van 2007 tot 2009 betrokke by die Mededingingsappèlhof en is daarna aangestel as regter in die appèlhof. Sy het van November 2014 tot Mei 2015 in die Konstitusionele Hof waargeneem.

Majiedt (58) het grade in BA (regte) en LLB by die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf en is in 1984 as advokaat toegelaat. In 1995 is hy aangestel as die Noord-Kaap se hoofregsadviseur in die kantoor van die premier.

Majiedt het in Januarie 2000 teruggekeer na ʼn privaat praktyk. Hy het as advokaat gewerk tot sy aanstelling as waarnemende regter van die Noord-Kaapse afdeling van die hooggeregshof. Hy is in dieselfde jaar aangestel as heeltydse regter in die hooggeregshof.

In Desember 2010 is Majiedt aangestel as permanente regter in die appèlhof. Hy het tussen Februarie en Mei 2014 in die Konstitusionele Hof waargeneem.

Hy was ʼn lid van die Nasionale Vereniging van Demokratiese Advokate (NADEL) en is die voorsitter van die Reëlsraad vir , asook ʼn raadslid van die Suid-Afrikaanse Geregtelike Opleidingsinstituut (SAJEI).

Hy is ook die kanselier van die Sol Plaatje-universiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Natalene Visser ·

Ek het vertroue in die Hoofregter en glo dat hy goeie insette sou lewer, wie die beste keuses sal wees. Baie sterkte aan die twee nuwe regters.

Judge Dredd ·

Die regstelsel is besig om te faal. Jou vertroue is misplaas.

jakes ·

Hoop in elk geval dat die 2 nuwe regters die beeld van justisie in SA sal verbeter. Jammer dat daar tog n paar vrot appels in ons howe diens doen.

Arno Scheepers ·

Jakes daar is nie een van hulle wat nie vrot appels is nie……almal anc kaders

jaco ·

Neem Majiedt se aanstelling regstellende aksie in ag?
Die rede waarom ek vra is die harde feite dat kleurlinge en Indiërs wat deesdae werk soek, gereeld moet hoor “sorry no job for you because you are not black enough”. Ek suig dit nie uit my duim nie. Daars talle bewyse.

Jerry ·

Ek begin sterk twyfel of daar enige regter oor is wat tans in die konstitusionele hof dien, wie nie n ANC kader is nie. Ideologies dui dit daarop dat soos wat die parlement die toon gaan aangee vir verandering, die wet toenemend deur die konstitusionele en ander howe geinterpreteer gaan word in afhanklikheid van die kommunisme, sosialisme en marxistiese pan afrikanisme. Alles begin tog maar by universiteite en die se regsfakulteite waar die universiteite reeds n geruime tyd onder links liberale beleg en beinvloeding gebuk gaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.