Twee vlieëniers dood in vliegongeluk

Argieffoto. (Foto: JOE RAEDLE / GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Twee vlieëniers is dood nadat ’n ligte vliegtuig Saterdagaand by ’n plaas in Kinkelbos, Oos-Kaap, neergestort het.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die vlieëniers, onderskeidelik 25 en 33 jaar oud, omstreeks 18:15 vanaf die Dawid Stuurman-lughawe opgestyg. Hulle was onderweg na Oos-Londen.

“Alle kommunikasie met die vliegtuig is omstreeks 20:07 verloor. Teen 22:00 is die polisie se soek-en-reddingspan, duikeenheid en honde-eenheid ontplooi om die vermiste vliegtuig te soek,” sê Naidu.

Die soektog is Sondag teen 02:30 afgelas en weer teen 07:00 voortgesit.

“Die soekspan is deur die Suid-Afrikaanse lugmag en die Bergklub van Suid-Afrika bygestaan.”

Die vliegtuig is vanuit die lug in die bosse op ’n plaas opgemerk.

“Albei vlieëniers is op die toneel dood verklaar. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen. ’n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die vlieëniers se afsterwe bepaal.”

Die identiteit van die vlieëniers is nog nie bekendgemaak nie omdat die familie nog in kennis gestel moet word.

Die ongeluk sal deur die burgerlugvaartowerhede ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Smirre ·

@maroela media: stel reg asb: “n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die vlieëniers bepaal.”

Smirre ·

Ai so hartseer om te hoor, hoop hulle kan spoedig uitvind wat die oorsaak was en leemtes (foute) regstel om nog so tragedie te verhoed. Sterkte aan die familie en geliefdes!

ES ·

Lyk vir my die BLO gaan baie strenger regulasies moet instel. Daar val nou amper een keer ‘n maand vliegtuie uit die lug – dit is ongehoord!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.