Twee vroue van mensehandel by OR Tambo gered

(Foto: Michele Spatari/AFP)

ʼn 56-jarige Duitser is in hegtenis geneem en twee vroue van Madagaskar, onderskeidelik 32 en 29 jaar oud, is by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg van beweerde mensehandel gered.

Volgens kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, is die twee vroue wat deur die verdagte, Joachim Will, vergesel is by die lughawe deur die grensbestuursowerhede (BMA) voorgekeer voordat hulle ʼn vlug na Kroasië kon haal.

Die BMA het die drie se paspoorte nagegaan en nadat daar bevestig is dat hul Italiaanse paspoorte vervals is, is hulle in hegtenis geneem.

“Verdere ondersoeke deur die Valke het aan die lig gebring dat Will die twee vroue op ʼn afspraak webwerf ontmoet het. Hy het die twee vroue na bewering werk in Kroasië met ʼn aanloklike salaris aangebied.

“Nadat die twee vroue daartoe ingestem het, het hy hulle ontmoet en na bewering hul vervalsde Italiaanse paspoorte aan gegee.”

Nkwalase sê in die lig van hierdie verwikkelinge is ander rolspelers genader om te verseker dat die slagoffers na ʼn plek van veiligheid geneem word.

Will het Vrydag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn waarna die saak teen hom tot 10 Mei vir ʼn formele aansoek om borgtog uitgestel is.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, die nasionale hoof van die Valke, het die betrokke multidissiplinêre span vir hul ywerige werk bedank.

“Die gekoördineerde pogings van ons spanlede was instrumenteel om te verhoed dat ons land as ʼn deurgangsoord gebruik word om misdaad te pleeg.

“Ons bly daartoe verbind om die oppergesag van die reg te handhaaf en te verseker dat geregtigheid vir die slagoffers van mensehandel geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.