Uber-bestuurders aangeval, voertuie aan die brand gesteek

Skermgreep uit die video

Kedibone Diale-Tlabela, Gautengse LUR vir vervoer en logistiek, veroordeel ten sterkste die aanvalle op e-taxibestuurders en motors wat by Maponya Mall in Soweto aan die brand gesteek is.

“Ons veroordeel hierdie sinnelose aanvalle op individue en eiendom ten sterkste. Hierdie dade is onaanvaarbaar en daar moet baie sterk daarteen opgetree word,” het die LUR Vrydag gesê.

Dit kom ná ʼn beweerde konfrontasie Donderdag tussen minibustaxibestuurders en e-taxibestuurders. Die minibustaxibestuurders het na bewering die e-taxibestuurders aangeval, drie voertuie aan die brand gesteek en vier ander beskadig in die parkeerterrein van die winkelsentrum.

Twee van die uitgebrande motors behoort glo aan ʼn e-taxioperateur en een van die motors behoort aan ʼn privaat persoon.

Drie mense is na ʼn hospitaal geneem waarvan een beserings tydens ʼn skietvoorval opgedoen het – na bewering deur minibustaxibestuurders.

“Ons sal nie deur individue, wat intimidasie en geweld gebruik, afgeskrik word om ʼn geïntegreerde en gemoderniseerde openbarevervoerstelsel op te bou nie. Ons wens die beseerde persone ʼn vinnige herstel toe en doen ʼn beroep op wetstoepassers om onverpoosd te werk om die persone, wat vir dié barbaarse aanval verantwoordelik is, aan te keer. Hulle moet die volle mag van die gereg voel.”

Die LUR het gesê die departement het beduidende vordering gemaak om geweld in die openbarevervoerbedryf uit te roei ná die 2019 Gauteng-taxiberaad en kragtens die aanbevelings van die Kommissie oor Taxigeweld.

“Volgens die aanbevelings van die kommissie is wysigings gemaak aan die Gautengse Reguleringsentiteit oor Openbare Vervoer 2011 om ʼn alternatiewe dispuutoplossingsmeganisme in te stel binne die openbarevervoerbedryf. Die regering word op die voorpunt geplaas om dispute in die taxibedryf op te klaar en stabiliteit in die provinsie te bring. Ons doen ʼn beroep op alle operateurs in openbare vervoer om van die arbitrasiekantoor gebruik te maak om dispute op te los.

Waarskuwing: Die onderstaande video bevat geweld en is nie geskik vir sensitiewe kykers of kinders nie. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Woes ·

Wat is die kans dat daardie vuurwapens wat so geskiet word wettig is. Niks gaan hiervan kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.