Uitdagende rol laat Trix wéér SA tasse pak

Trix Vivier in “Juffrou X”. (Foto: verskaf)

Trix Vivier is nie bang vir ʼn nuwe uitdaging nie, selfs al beteken dit sy moet in een jaar op drie verskillende kontinente woon.

Sy woon die afgelope twee jaar om die beurt in Doebai en Amsterdam, maar het nie geskroom om ʼn rol in ʼn splinternuwe dramareeks op Suid-Afrikaanse bodem te aanvaar nie.

Trix meen haar avontuurlustige leefstyl en soeke na nuwe uitdagings help haar as aktrise om voortdurend die grense te skuif.

Dié 35-jarige stralejakker is veral bekend vir haar rolle in reekse soos Fraksie, Legacy, Trackers en Waterfront. Sy is binnekort in kykNET se nuwe dramareeks, Juffrou X, te sien.

Sy sê aan Maroela Media dié jongste projek lê haar na aan die hart, juis omdat dit haar op ʼn kreatiewe en intellektuele vlak uitgedaag het, net soos sy dit verkies.

Juffrou X handel oor Victory Heights Sekondêre Skool in die Suid-Kaap en die uitdagings wat leerders en onderwysers by die skool daagliks ervaar.

Van hierdie uitdagings sluit bendegeweld en armoede in. Die reeks volg die leerders op hul pad om ʼn sukses van hul toekoms te maak. Trix vertolk die rol van juffrou X, oftewel Inge Bester, ʼn wiskunde-onderwyseres, wat ʼn leierfiguur in die leerders se lewens speel en boonop ʼn vigilante word in haar poging om die skoolkinders te red.

Benewens die storielyn en tema is dit veral die kreatiewe span agter die reeks wat Trix se aandag getrek het.

Sy erken maklik dat sy nog altyd saam met Tertius Kapp aan ʼn projek wou werk, en toe sy sien dat hy die draaiboekskrywer en regisseur van die reeks is, was dit moeilik om die geleentheid van die hand te wys.

(Foto: verskaf)

“Ek wou nog altyd betrokke wees by ʼn projek wat Tertius self geskryf het,” vertel Trix.

“Ek is altyd op soek na mense wat my uitdaag, en Tertius is een van daardie mense. Dit was vir my ʼn groot trekpleister.”

Die aard van haar karakter, Inge, het ook haar belangstelling geprikkel. Hoewel Inge as die hoofkarakter bestempel word, vorm sy ook deel van ʼn  ensemble.

Dit is natuurlik ook hoe sy dit verkies, sê Trix.

“Ek is nie regtig geïnteresseerd in ʼn storie wat net om die hoofkarakter draai nie; ek dink dit kan bietjie vervelig raak. Inge se storie is relevant tot die ensemble en andersom.

“Die wêreld wat Tertius geskep het en die plek waar die storie plaasvind, is nog nie voorheen in ʼn Afrikaanse storielyn voorgestel nie. Ek veronderstel daar is iets romanties daaraan om ʼn onderwyser te speel wat ʼn leierskapsrol inneem in kinders se lewens.”

Sy beskryf die projek as ʼn “huwelik tussen passie en pyn”, aangesien die verfilming daarvan vir haar op ʼn persoonlike en professionele vlak bevrediging gegee het, maar ook pyn veroorsaak het.

Vir agt weke lank was sy in die wêreld van Juffrou X, wat met tye met ʼn wavrag pyn en wroeging gepaard gegaan het. Sy het haarself in hierdie fiktiewe wêreld ingeleef, maar het ook besef dat die seer wat sy dikwels deur haar karakter gevoel het, vlietend is.

Bedags, ná werk, kon sy huis toe gaan en die dag se moeilike tonele afskud. Sy het ook besef dat ek nie myself verder in die wêreld kan inleef nie en dat haar betrokkenheid daarby ook net so ver kan strek.

(Foto: verskaf)

Haar gesin was ook nie tydens die verfilmingstydperk by haar nie, iets wat haar as ma veral uitgedaag het.

Wanneer Trix aan haar liefde vir toneelspel dink, weet sy dat sy eintlik daarmee gebore is. Sy het in die kusdorp Melkbosstrand grootgeword en onthou vandag nog goed hoe sy en haar ma dikwels ballet by die Kunstekaap-teater gaan kyk het.

Om hard te werk vir haar kuns is iets wat sy goed ken.

“Ek was nie in die beste dansskool of het die beste opleiding gehad nie, en aan die begin was ek maar sleg. Wat ek wel gehad het, was ʼn ondersteuningsnetwerk wat in my geglo het.

“Daar is mense wat die liefde vir die kunste in my raakgesien het en gekoester het.”

Al agter die winter aan

Trix en haar gesin het twee jaar gelede Doebai toe verhuis, hoewel hulle die besonderse warm Doebai-somers jaarliks vir ʼn koeler Europese somer verruil. Hulle bring jaarliks drie tot vier maande in Amsterdam deur om weg te kom van die warm temperature in Doebai, wat soms die kwik tot 55 °C kan laat styg.

Tussendeur probeer sy die loopbaan onderhou wat sy in Suid-Afrika gevestig het, selfs al sit sy duisende kilometers weg van haar tuisland af. Sy is ook tans besig om haar loopbaangrense na lande soos Engeland en die VSA te verbreed, en terwyl dit ʼn uitdaging is, is dit juis die soort ding wat haar bloed aan die vloei hou.

Trix en haar sussie, Lea Vivier. (Foto: Trix Vivier/Instagram)

Trix bieg dat dit soms uiters uitdagend is om ʼn ma en ʼn aktrise te wees en veral moeilik is om rond te reis en soms haar kinders tuis te los.

“Dit is ʼn opoffering wat jy as ma en ouer moet maak. Mense wat in ander bedrywe werk en ook moet reis vir werk, sal dit ook ervaar.”

Sy en haar man het al in ʼn hele paar lande gewoon, insluitend Israel, Turkye en die VSA. “Party mense sê ons het rooimiere, maar ek stem nie noodwendig hiermee saam nie.

“Wat ek wel weet, is dat ons baie avontuurlustig is en moeilik nee sê vir ʼn geleentheid. Toe ons nog in Suid-Afrika gebly het, het ons dikwels rondgereis.

“Ons het nog altyd die behoefte gehad om in meer as een stad te bly. Ek veronderstel dat dit aan die begin ʼn skok was, maar ons is al gewoond daaraan om lig te lewe.”

Al swerf Trix vandag soos ʼn swaeltjie rond, is haar liefde vir Suid-Afrika blywend.

“Suid-Afrika is die beste land in die hele wêreld. Ek weet dit kom met sy uitdagings, maar so het elke land in die wêreld maar sy probleme.”

  • Juffrou X begin Dinsdag 30 April om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.