Uitsmyters buite Durban-nagklub geskiet

Paramedici het die mans op die toneel behandel voordat hulle na hospitale gehaas is (Foto: Verskaf)

Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat vier mans Saterdagaand buitekant ’n nagklub in Greyville, Durban, geskiet is. Die mans was oënskynlik die uitsmyters van die nagklub.

Volgens konst. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, is die polisie van die Durban Sentraal-polisiestasie omstreeks 22:05 na die nagklub in Harveyweg ontbied.

“Volgens inligting het ’n voertuig, sonder ’n nommerplaat, verby die nagklub gery. Een van die insittendes het op die mans losbrand,” sê Ngcobo.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici van Netcare 911 is na die toneel ontbied en het daar die mans aangetref. Twee van die mans het ernstige beserings opgedoen, terwyl paramedici die ander twee vir matige tot ernstige beserings behandel het.

Al vier pasiënte is na nabygeleë hospitale gehaas vir verdere mediese behandeling.

Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die voorval en ’n saak van poging tot moord is aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack ·

KZN met trotse die mees geweldadigste provindie in die land.Hier is alles om jou hare te laai rys.Maar veral moord is die spesialiteit.Die mafia beheer die provinsie en selfs polisie sal twee keer dink om met hulle swaarde te kruis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.