Unisa se beleid oor Afrikaans ‘ongrondwetlik’ – appèlhof

(Foto: Maroela Media)

Unisa moet Afrikaans as onderrigtaal herinstel nadat die appèlhof beslis het die universiteit se taalbeleid wat Afrikaans in wese afgeskaf het, is ongrondwetlik.

“Die nuwe taalbeleid wat die Universiteit van Suid-Afrika aanvaar het, word ongrondwetlik en onregmatig verklaar en ter syde gestel in soverre Afrikaans as taal van onderrig en leer afgeskaf is,” het die regters bevind.

Die uitspraak kom nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof verlede jaar uitspraak gelewer het ten gunste van die beleid wat bepaal dat Engels die primêre onderrigtaal aan dié instelling is. Die burgerregtegroep AfriForum het Unisa oor die beleid gepak.

Buiten Unisa was daar reeds drie hofprosesse teen die verengelsing van voorheen Afrikaanstalige universiteite, naamlik die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Pretoria en die Universiteit Stellenbosch. Elke keer het die howe uiteindelik ten gunste van verengelsing beslis.

“Terwyl die bewyse daarop dui dat daar ʼn behoefte aan ʼn hersiening van Unisa se taalbeleid is, is daar nie vasgestel dat Unisa se taalbeleid wat in 2016 aanvaar is aan die Grondwet voldoen het nie,” het die regters bevind.

Volgens die regters het Unisa ook nie bewys dat dit nie prakties uitvoerbaar is om onderrig steeds in Afrikaans aan te bied nie. Unisa moet nou ʼn kennisgewing uitstuur met ʼn lys van al die modules wat teen 28 April 2016 – toe die beleid aangepas is – in Afrikaans beskikbaar was en moet dié modules tydens die volgende akademiese jaar op eerstejaarvlak aanpas. Bestaande studente wat ingeskryf was vir enige van die kursusse of wat in die volgende jaar die kursus in Afrikaans wou volg, moet nou toegelaat word om dit te doen.

Unisa (Foto: Gauteng-toerisme)

Die regters het beslis dat die modules volledig aangebied moet word totdat die taalbeleid regmatig, indien enigsins, aangepas word.

Volgens die regters is daar by Unisa, wat afstandonderrig aanbied, geen gewone, fisieke klasse of kampuslewe nie. Daar bestaan dus nie die gevaar dat studente op grond van ras gesegregeer kan word nie. “Ek kan nie sien hoe die uitoefening van die reg van Unisa se Afrikaanssprekende studente tot onderrig in hul moedertaal ʼn gevaar vir rassamehorigheid kan inhou en moontlik rasoorheersing, soos by die universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch gebeur het, kan bevorder nie,” lui die uitspraak.

Die regters het Unisa se argument, dat dit nie prakties uitvoerbaar was om Afrikaans vir ʼn minderheid studente aan te bied nie, verwerp. Unisa het aangevoer ander inheemse tale is nie akademies en wetenskaplik so ver soos Afrikaans gevorder nie en dat dit later weer ontwikkel kan word, saam met ander inheemse tale, om almal op gelyke voet te bring.

Volgens die regters laat dit die vraag ontstaan oor hoe Unisa se “edele en selferkende progressiewe doelwit” om alle Suid-Afrikaanse inheemse tale te ontwikkel bevorder word deur ʼn taal wat reeds ten volle ontwikkel is, af te skaf.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, het die uitspraak verwelkom.

“Ons is verskriklik dankbaar, ook oor die bewoording van die uitspraak dat die taalbeleid ongrondwetlik is. Ons hou vol dat die Grondwet voorsiening maak vir onderrig in Afrikaans en vir die eerste keer is daar nou ʼn oorwinning vir Afrikaans op dié hoë vlak,” het sy gesê.

“Dit is ʼn baie belangrike uitspraak vir Afrikaans.”

Bailey het gesê toe die saak aanhangig gemaak is, het nagenoeg 30 000 van Unisa se studente aangedui dat hulle Afrikaanssprekend is.

“Dit is ook ʼn oorwinning vir die beginsel van taalregte en ʼn baie belangrike uitspraak daaroor.”

Bailey het gesê die organisasie sal meer omvattend reageer sodra die uitspraak behoorlik bestudeer is.

Die hof het ook beveel dat Unisa die koste van die aansoek moet betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Is nou tyd dat die taal ding gestop word en die onderdrukking. Elke keer as ek kyk en sien my taal word so onderdrukking, dan wonder ek wanneer begin daar n – “ONS TAAL MAAK SAAK!”

Jaco ·

net wit afrikaanse organisasies kla oor diskriminasie teen Afrikaans. Ek sien en hoor nooit afrikaanssprekende kleurlinge kla nie. Swart sprekers van Zulu, Xhiosa, Tswana, SiSwati, Venda ens kla ook nooit oor diskriminasie teen hulle tale nie.
Vreemd ook dat engels nog altyd, selfs in die Afrikaansgedomineerde ou SA, ‘n verpligte skoolvak op skool was, tot op matriekvlak. So nou wonder ek maar net, is dit moontlik dat daar wit Afrikaanssprekende mense in SA is wat nie Engels verstaan nie?
Aangesien net wit Afrikaanse mense oor diskriminasie teen Afrikaans kla, kan ons baie maklik geviktimiseer word. Op ‘n dag dan verklaar die ANC “tot hiertoe en nie verder nie” en dan begin hulle met VEEL erger onderdrukking teen ons omdat ons “reaksioner” en “teen transformasie” is. Dan ly ons almal oor net ‘n paar van ons gedurig gekla het oor diskriminasie teen Afrikaans.
Lag liewer oor verengelsing, want dis ‘n kruipery voor ‘n taal waarin daar onderdruk is dwarsoor die British Empire.

Annatjie ·

Wat is jou punt? Is jy vir of teen Afrikaans dit is al wat ter sprake is nie of jy wit swart of geel is nie

Leeuwyfie ·

Jaco, ek is tog so dankbaar dat dit die minderheid mense is wat soos jy dink. Jy is een van daai mense wat die slagoffers blameer vir die misdadigers se optrede.

Piet Snot ·

Jaco, ek praat 4 tale en kan myself soort van help in nog 2. Die vermoë om ‘n taal te praat, is irrelevant. Dit gaan oor my keuse in my land, en dis wat gerespekteer moet word.
Ons word klaar geviktimiseer – kyk om jou rond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.