UP-menseregtekenner Christof Heyns sterf

Prof. Christof Heyns (Foto: Facebook)

Prof. Christof Heyns, menseregtekenner en direkteur van die Instituut vir Internasionale en Vergelykende Reg in Afrika aan die Universiteit van Pretoria (UP), is Sondag oorlede. Hy was 62 jaar oud.

Luidens berigte is Heyns tydens ʼn staptog dood. Die oorsaak van sy dood is in hierdie stadium nog nie bekend gemaak nie.

Heyns was ook voorheen aan die stuur van die UP se Sentrum vir Menseregte en vir ʼn termyn van vier jaar dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid.

UP sê in ʼn verklaring Heyns het verlede jaar ʼn deurslaggewende rol in die opstel van die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekomitee se “Algemene Kommentaar 37” (2020) gespeel. Heyns was die rapporteur van die komitee wat die Algemene Kommentaar in Julie verlede jaar gepubliseer het.

Heyns was ook betrokke by die opstel van die VN se “Menseregteleiding oor minder dodelike wapens” in samewerking met die hoë kommissariaat vir menseregte. Dié dokument is ook in Julie verlede jaar bekend gestel.

Heyns het voor sy dood as raadgewer oor menseregtekwessies vir ʼn hele aantal internasionale, streek- en nasionale instansies gedien. Hy is in Augustus 2010 aangestel as spesiale rapporteur van die VN oor buitengeregtelike, samevattende of arbitrêre teregstellings waarna hy in 2017 die Suid-Afrikaanse kandidaat vir die verkiesing tot die VN se Menseregtekomitee was.

Prof. Christof Heyns (Foto: Facebook)

Hy was een van drie kundiges wat aangestel is om die VN se onafhanklike ondersoek na Burundi uit te voer en het in dié geval as voorsitter gedien. Hy het ook ʼn Humboldt-genootskap aan die Max Planck-instituut in Heidelberg, Duitsland, en ʼn Fulbright-genootskap by die Menseregteprogram aan die Harvard Law School voltooi en op die redaksie van akademiese tydskrifte in Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk, Nederland, Brasilië, Uganda, Turkye en Costa Rica gedien.

Heyns was nie net ’n reus in akademiese regskringe nie, maar ook ʼn bekende lid van UP-regsfakulteit se rockgroep, The Bandits, wat meer as ʼn dekade lank by talle UP-regsfakulteitfeeste opgetree het.

Prof. Elsabe Schoeman, dekaan van die UP se Fakulteit Regsgeleerdheid, sê Heyns se entoesiasme vir die lewe, sy toewyding aan die fakulteit, sy nasionale en internasionale bydrae, invloed en werk is “ongeëwenaard”.

Heyns en sy vrou, Fearika, het hul eerste kleinkind in Februarie verlede jaar verwelkom.

Hy word oorleef deur sy vrou, sy seun, Adam Heyns, sy twee dogters, Willemien Rust en Renée Heyns, sy skoonseun Arné Francois Rust, sy ma, Renée Heyns, en kleinseun, Isak Rust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.