Vaaldam se vlak sak steeds gevaarlik

Die Mohaledam in Lesotho se vlak staan in hierdie stadium op 5,3%. (Foto: DWS)

Die vlak van die Vaaldam het die afgelope week bly daal en dié toedrag skets ʼn donker prentjie vir ʼn dam wat uiters noodsaaklik is vir watervoorsiening aan Gauteng, die land se ekonomiese hart.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van waterwese en sanitasie, sê die Vaaldam se vlak het gedaal van 37,6% verlede week tot 37% dié week. Die genadelose afname, wat nou reeds maande lank duur, beteken die dam is op ʼn veel swakker vlak as ʼn jaar gelede toe dit op 58,6% gestaan het.

Die Grootdraaidam se vlak is ook laer. Dit het gedaal van 78,9% verlede week, tot 78% vandeesweek. Dis wel meer as dieselfde tyd verlede jaar, toe die dam se vlak op 60,7% gestaan het.

Die Sterfonteindam in die Vrystaat staan vir die derde agtereenvolgende week op 93,9%, terwyl dit verlede jaar dié tyd op 92% gestaan.

“Dit dui daarop dat die dam, ʼn reserwedam, die afgelope paar maande sterk staan,” het Ratau gesê.

Die Bloemhofdam se vlak het heelwat gedaal – van 97,3% verlede week tot 95,3% – maar is steeds op ʼn bestendige en gesonde vlak.

Volgens Ratau is die daling in die vlak van die Mohale- en Katsedam in Lesotho nou ʼn alledaagse verskynsel en ʼn groot bron van kommer vir die departement.

Die Mohaledam se vlak daal weekliks en gaan binnekort waarskynlik dolleeg wees. Die damvlak het afgeneem van 6% verlede week tot 5,3% vandeesweek.

“Dit lyk nie of die situasie binnekort gaan verbeter nie. Dieselfde tyd verlede jaar was die damvlak op 33%,” het Ratau gesê.

Die situasie by die Katsedam is ewe benard en vererger by die dag. Die dam se vlak het gedaal van 27,5% verlede week tot die huidige 26,4%. Dié dam is nou ook die dam wat die vinnigste daling in sy vlak ondervind. Verlede jaar hierdie tyd het die dam se vlak op 17% gestaan.

Ratau sê ten spyte van die dalende damvlakke is die geïntegreerde Vaalrivierstelsel (IVRS) vandeesweek steeds op ʼn relatief gesonde plek. Die stelsel bestaan uit 14 damme, waaronder die Vaal, en is deurslaggewend vir die verskaffing van water aan nywerhede soos Sasol en Eskom.

Die IVRS het van 60,4% verlede week tot die huidige 59,7% gedaal. Dieselfde tyd verlede jaar was dit op ʼn veel gesonder 65,7%.

Die departement het Gautengers gevra om hul huishoudelike gebruik te beperk tot net die nodigste en nie tuine nat te lei nie.

Ratau het ook ʼn beroep op inwoners gedoen om besoedeling te help voorkom in ʼn poging om die land se reeds kwynende waterbronne te help beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Remlut ·

Liewer hulle praat met hulle self. Ons as verbruikers mors nie water nie. Dit is hulle gebrek aan onderhoud wat GLAD NIE bestaan nie

Stofdonkie ·

Jy praat waar hier, sal interresant wees om te moet weet hoeveel water raak verlore weens munisipale waterlekke wat nie herstel word nie.

Stofdonkie ·

Die Vaaldam is het dus nog water vir sowat 62 weke. Die binneland se reenseisoen begin darem nou weer, ons hoop dit kom reen net gou en genoeg om die dam darem weer genoegsaam aan te vul.

Daniel ·

Daar is so baie lekkende pype in die strate van Pretoria wat al maande lank lek en nie herstel word.
Miskien moet hulle daar begin?

Vrystaat2109 ·

Gee vir nog meer mense gratis water sonder om nog damme te bou, dis mos hoe dit werk in ons land,as jy iets verniet kry hoef jy nie te spaar nie gaan kyk maar in die informele nedersettings

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.