Vakbonde na appèlhof oor ‘afleggings’ by SAL

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) gaan hul nou direk na die arbeidsappèlhof wend nadat hul aansoek om verlof tot appèl teen ʼn beslissing van die arbeidshof Donderdag misluk het.

Die arbeidshof het verlede week ʼn aansoek deur die twee vakbonde om ʼn interdik te bekom teen afleggings by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), van die hand gewys. Hulle het onsuksesvol teen dié uitspraak geappelleer.

Die vakbonde sê dit is “duidelik en ooglopend dat die sakereddingspraktisyns besig is met radikale herstrukturering by die SAL en dat massa-afleggings op hande is”.

Die SAL is einde verlede jaar in sakeredding geplaas ná die lugdiens die afgelope twee jaar meer as R10 miljard se verliese gely het. ʼn Staking verlede jaar het die lugdiens ʼn verdere knou toegedien en die lugdiens daagliks meer as R50 miljoen uit die sak gejaag.

Die sakereddingspraktisyns het vandeesmaand ook aangekondig die lugdiens gaan vanaf 1 Maart verskeie van sy roetes opskort.

Regter Graham Moshoana het verlede week in sy uitspraak gesê die SAL het nie afleggings in gedagte gehad nie en die verpligting om kragtens artikel 183(1) van die Wet op Arbeidsverhoudinge te konsulteer, was dus nie ʼn oorweging nie.

Maar die vakbonde het Vrydag, nadat hul appèlaansoek van die hand gewys is, gesê die arbeidshof het met die uitspraak gronde geskep vir sakereddingspraktisyns om hul posisie te misbruik en om straffeloos met werkers om te gaan – solank dit gedoen word vóór ʼn sakereddingsplan bekend gemaak word.

Die vakbonde sê ingevolge wetgewing moet hulle die kans gegun word om alternatiewe voorstelle te maak sodat afleggings verminder of vermy kan word. Hulle voer aan daar is geen rede om dié wetgewing te verontagsaam net omdat sakereddingspraktisyns betrokke is nie.

Die vakbonde sê ook dit is ondenkbaar dat die hof glo dat geen afleggings oorweeg word nie, terwyl 11 roetes gekanselleer word. “Die besluite wat [die sakereddingspraktisyns] neem, is ingrypend en gaan ʼn langtermynuitwerking op die SAL hê.

“Die besluit om soveel winsgewende roetes te kanselleer, is ʼn seker manier om die SAL te vernietig. Die besluit gaan dit onmoontlik maak vir enige alternatiewe planne om voorgelê te word om die redery in sy huidige formaat te behou.”

Die vakbonde voer aan teen die tyd dat die sakereddingsplan voorgelê word, gaan werkers se enigste opsie wees om maar ʼn drasties verminderde personeelkorps te aanvaar.

“Hulle stel hierdie veranderings in werking sonder agting vir hoe die besluite die tegniese afdeling (SAAT), Airchefs en ander filiale van die SAL gaan raak.

“Deur op dié manier te herstruktureer kom die diewe en stropers op die raad en uitvoerende bestuur, wat die redery deur opgeblase, korrupte verkrygingsprosesse verwoes het, skotvry daarvan af en kan hulle hul korrupsie met afleggings toesmeer.”

Die vakbonde sê ook die sakereddingspraktisyns het self gesê hulle het geen haas om korrupsie by die SAL te pak nie. Hulle voer aan die praktisyns kan dadelik iets aan duur kontrakte doen, maar verkies om agter die spesiale ondersoekeenheid se ondersoek daarna te skuil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Mienks ·

Kom ons tooi tooi en brand af…. Plaas die mense hulle werk doen of mense kry wat actually die werk kan doen en wil doen, maar nee kom ons stel ‘n klomp neute aan wat nie weet wat om te doen nie of heel te maal onbevoeg is en betaal hulle ‘n lieflike paytjek elke maand. Dan wonder mense nog hoekom niemand in ons land wil bele of hoekom ons mense met kennis en geleerdheid land uit gaan

Koos ·

Die vakbonde het ook aandeel in die mislukking en wanfunksie van die SAL.

Stefan ·

Ek dink die aflè dreiging regverdig ‘n lang uitgerekte staking.
Ons salaris is so goed, ons kan maklik ‘n paar maande sonder dit klaarkom.

Nie Verbaas ·

Geagte vakbonde, hoe dink julle gaan die lugdiens winsgewend wees met opgeskorte roetes en dieselfde hoeveelheid mense? Die vermoe om te dink ontwyk julle gedurig. Die enigste ander opsie, sekwestreer die lugdiens, Dan is almal hulle werk kwyt en is daar een minder verleentheid vir ons grappige land.

henndrik ·

Ek twyfel baie sterk of die roetes wat afgeskaf word winsgewend is/was want ek is seker dan sou hulle nie afgeskaf geword het nie. Ek reken ook die ANC behoort die kostes van enige afleggings wat daar moontlik kan wees finansier en daarmee bedoel ek die ANC en hulle ministers en kiesers, nie die algemene belastingbetalers nie want hulle het die probleem geskep

Nie Verbaas ·

Vlugte is vol? SAA kan bly wees as hulle genoeg passasiers het om n Cesna vol te maak.

JM ·

Is dit só moeilik vir die vakbonde om te begryp: DAAR ÍS NIE GELD NIE?!! Of wil hulle ook die pensioenfondse plunder om oortollige werknemers te betaal? Aggressie oorheers hier die verstand. Hoe lank gaan al die gemors nog aanhou?

Toy ·

Hulle moet minder rond spring en hulle werk begin doen dan sal dit beter gaan in Suid Afrika.

Chivago ·

Dit het julle nou van ‘n gedurige stakery. Toe was julle nie tevrede met salarisse/tenders/omstandighede of watter redes ookal nie, nou staar julle werkloosheid in die gesig en kan nog steeds nie die groter prentjie sien nie…..

Snowball ·

Skynbaar kan vakbonde nie oorsaak en gevolg bymekaar uitbring nie. Saai wind en jy oes storms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.