Valke moet kyk na ‘korrupsie’ by Poskantoor

Die sukkelende Poskantoor het reeds miljoene rande in reddingsboeie ontvang. (Foto: Maroela Media)

Die Poskantoor se agterstallige betalings van sy werkers se mediesefondsbydraes beloop nou reeds ʼn verstommende R700 miljoen en die DA het die Valke gevra om dringend ondersoek in te stel na grootskaalse beweerde bedrog by die sukkelende staatsinstelling.

Werkers by die Poskantoor se eie bydraes aan hul mediese fonds word steeds maandeliks van hul salaris verhaal en oorbetaal, maar die tweederde-bedrag wat die Poskantoor moet bydra, word al maande lank nie betaal nie.

Sowat 22 000 mense kan weens die versuim om die betalings te doen, dalk nou hul mediese fonds kwyt wees.

In ʼn brief aan lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, sê Dianne Kohler Barnard, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, daar is boonop bewerings dat die Poskantoor ook nie pensioenfondsbydraes, of bydraes aan die werkloosheidsversekeringsfonds en die lopende betaalstelsel (bekend as PAYE) doen nie, en ook nie BTW betaal nie.

In ʼn voorlegging van die bestuur aan die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie, het die Poskantoor gesê hy maak nie genoeg geld om die bydraes te betaal nie.

“Dit lyk na bedrog op ʼn reuseskaal,” skryf Kohler Barnard in haar brief aan Lebeya.

“Dit is juis om hierdie rede dat ons die saak by die Valke aanmeld sodat ʼn deurdringende ondersoek gedoen kan word.”

Kohler Barnard sê die Poskantoor voer aan dat hy met die mediese fonds praat oor die situasie.

Die Poskantoor se geldsake is reeds geruime tyd in ʼn beroerde posisie en volgens die DA is dit net nog ʼn mislukte staatsbeheerde onderneming van die ANC.

“Sedert die [kommunikasie-]portefeulje ʼn paar weke gelede aan my toegewys is, is my inboks volgemaak deur pleidooie van oor die land heen oor die enigste plaaslike poskantoor wat summier gesluit is,” sê sy.

In een geval is die poskantoor op Underberg toegemaak omdat die huurgeld langer as ʼn jaar net nie betaal is nie.

Die eiendom word sedert 2015 gehuur, maar oor die laaste paar jaar was die huurgeld, sowel as betalings vir krag en water, ongereeld of in die meeste gevalle glad nie betaal nie. Dié skuld staan nou op meer as R243 000.

Mense word glo bloot vertel dat daar geen geld beskikbaar is nie.

“Die Poskantoor het net twee opsies oor: óf dit word geprivatiseer, óf dit moet heeltemal gesluit word.”

Die Poskantoor het reeds ʼn reddingsboei van R80 miljard gekry om sy sake beredder, maar volgens die DA was nie eens dít genoeg nie.

Die instelling het in 2020 ʼn verlies van R1,7 miljard gely en ʼn selfs groter verlies word vir die 2021-boejkaar voorspel.

Kohler Barnard sê die Valke se ondersoek moet nou wys wie presies by hierdie beweerde bedrog baat.

“Suid-Afrikaners sukkel om kos op die tafel te sit en niks kan die miljoene wat in die drein afgegooi word vir hierdie spesifieke bankrot ydelheidsprojek verskoon nie – veral wanneer die geld nie gebruik word om die krediteure die miljarde rande wat hulle geskuld word, te betaal nie.”

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, lewer in Oktober vanjaar sy begrotingstoespraak en luidens berigte het die Poskantoor gevra vir nog R2,4 miljard om kop bo water te probeer hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Waarnemer ·

Die hele wereld weet mos nou al wie baat by die korrupte poskantoor…..almal sit aan die hoif van die regering en noem hulleself minister so en minister so.Die hele infrastruktuur van ons mooi land steier tans op die rand van n groot afgrond en dit help net moou niks almal hoop op 2024 se verkiesing nie.

domheks ·

Dit is maar net die ANC wat die voorbeeld daar stel. Hoekom sal ons Pensioene/PAYE/BTW/Medies betaal as ons dit liewer in ons eie sak kan sit? Wus maar net ANC dink net elkeen vir homself, duiwel vir die res.

Jakes ·

As die regerende party vrot is van korrupsie sal dit uiteraard deursypel na alle staatsentiteite soos reeds bewys.

Phillip ·

Wel die poskantoor in Brits is nie veel beter nie kry n brief wat gestenp is Februarie nou in die pos dan vrae hulle hoekom mense posnet en ander dienste gebriuk .

marius ·

As dit ‘n wit Afrikaanse besigheid was , het die hele land gebrand . Dis die waarheid . Spul korrupte leunaars !

JM ·

En wat vir lewe en dood aan die mag vasklou, is die ANC! Alles vergaan, maar Cyril glimlag steeds van oor tot oor!

Nie Verbaas ·

Pragtig. Viva BEE en hulle onvermoë om intelligente besluite te neem.

annie ·

Beroerde toestand… ‘n Erge kompliment vir dié roerlose dooie! Hoelank moet ‘n liggaam dood wees en ruik voordat iemand agterkom iets skeel erg? Eintlik moet aasvoëls ipv van arende ingeroep word want dit is eergenoemde se geboortereg om bene te stroop… Of is dit lg ook reeds uitgevoer saam met die koperkabels en renosterhorings.

Dries ·

Ai, wat n tragedie. Ek het baie posmeesters geken wat hulle kantore met trots bestuur het.

MARTIE ·

Mens kan nie eers meer pos seëls by die poskantoor koop nie. Bid jou aan!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.