Verhongerde boerboele by Hartenbos-telery gered

Insp. Colleen Thysse sien om na een van die honde wat gered is. (Foto: Garden Route SPCA)

WAARSKUWING: Die inhoud van hierdie berig kan sommige lesers ontstel.

Die Tuinroete-DBV het 60 verhongerde boerboele by ʼn teelfasiliteit op Hartenbos gered waar hulle volgens die organisasies beperk is tot klein geëlektrifiseerde kampe sonder enige behoorlike slaapplek, en in sommige gevalle, onvoldoende skuiling.

Die omstandighede was só haglik dat selfs ervare inspekteurs gesukkel het om die vlak van verwaarlosing waaraan die honde onderwerp is, te verwerk.

“Die hartseerste hiervan is dat die diere soveel vroeër gered of van lyding gespaar kon word. Toe ons by hulle uitgekom het, kon talle van die diere tragies genoeg net nie meer gered word nie,” sê Cheri Cooke, ʼn senior inspekteur verbonde aan die Dierebeskermingsvereniging.

Die DBV het die fasiliteit verlede week besoek, nadat ʼn klagte oor die omstandighede daar ontvang is.

Verskeie honde was erg vermaer en dit het gelyk of talle van hulle sukkel met onbehandelde beserings en pynlike druksere. In optrede wat as niks anders as misdadig bestempel kan word nie, is die diere steeds vir gewin uitgebuit, sê die DBV.

“Ons doen ʼn beroep op eienaars of telers wat hulself in hierdie posisie bevind om asseblief die gesondheid en welstand van hul diere eerste te stel en na die plaaslike DBV vir hulp uit te reik,” sê Cooke.

Die DBV se span veeartse en inspekteurs verwerk nou die bewyse wat ingesamel is met die oog op die vervolging van diegene wat verantwoordelik is vir die beweerde mishandeling.

“Ons is immers al stem wat hierdie diere het,” sê Cooke.

Twee van die uitgeteerde honde wat op die perseel gevind is. (Foto: Garden Route DBV)

Al die diere is reeds van die perseel verwyder. Dié honde met ʼn kans op oorlewing word in kwarantynhokke gehou waar hulle nou mediese behandeling, uitstekende voeding en “die belangrikste van alles, die liefde en sorg wat van hulle weerhou is”, ontvang.

Die organisasie sê hy is verbind tot die rehabilitasie van dié honde, asook al die ander diere wat die DBV red.

“Met al hoe meer openbare bewusmaking en die voortgesette hulp van ons skenkers en vrywilligers, is ons vol vertroue dat ons binnekort die gelukkige en opbeurende verhale van hul herstel en nuwe tuistes sal deel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Toy ·

Mag hulle hul straf kry, dit is sonde wat gedoen is aan die honde. Die teler is gladnie lief vir diere nie, dit lyk my dit gaan net oor om geld te maak. Dit is uiters hartseer.

Michele ·

Want die teler doen dit net vir geld. Snaaks ek het dieselfde gese en toe work my comment verwyder!

SomeOne ·

tronkstraf of boete nie van toepassing, hou teler ook aan in hok, met soortgelyke omstandighede waarin die honde was, met ook baie min kos en water, of geen, dat teler ook die seer kan ervaar wat die honde moes deurgaan

koos ·

Is dit nou hoe die kroon van die Skepping na reddelose diere omsien? Die mensdom kan baie bly wees ek is nie God Almagtig nie, ek sou lankal die “restart” knoppie gedruk het. Wys jou net hoe groot Sy genade en liefde vir ons is.

Miena ·

Ek het self 3 Boerboele – en hulle is nou die kinders in die huis omdat my mensekinders uit die huis uit is en elkeen hul eie lewe het. My kinders skerts soms en se dat my Boerboele meer liefde en aandag en kos kry as wat hulle as kinders in die huis gekry het… Ai my hart is sommer seer vir daardie diere wat gered is. Dankie DBV dat julle ingegryp het. Daar is n groot FB ondersteuners groep vir Boerboel rehabilitasie – hopelik kry elkeen van hulle n baie goeie huis. ai my oe traan sommer weer op… baie baie hartseer. Maroela Media – sal julle dalk in die toekoms weer n opvolg kan doen oor wat met die honde gebeur het?

Chris dupreez ·

Maak die naam van die telery bekend, asook die eienaar

Neelsie ·

Ja, name and shame. Maar ek dink nie dit sal sulke “mense” pla nie!

Sandra ·

Hulle is juis sulke dierbare honde, en groot babas basies. Hoe laat mens so iets gebeur. Die wat skuldig is moet so so swaar gestraf word. Ek wil sommer huil. Hulle is so afhanklik van ons liefde en tot my honde wat baie liefde kry, leef net vir die tyd wat ons by die huis kom. Hoe kan mense wat hiervan vroeeer geweet het, so iets toegelaat het. As hulle nie hier gestraf word nie, weet ek dat ons Hemelse Vader sy eie straf sal uitmeet. Humankind is judged on the way they treat their animals.

Papsak ·

Swak van eienaar om n dier so te verwaarloos regtig straf hom ten swaarste vat sy water en kos weg laat hy voel

Kokerboom ·

Verbied die aaklige mens om OOIT weer met diere te werk. Sluit hom toe of laat hom vir 5 jaar verpligte diere gemeenskaps diens verrig. Eks skoon naar van woede!!!!

TO ·

Dis ‘n skreiende skande, hoe gebeur dit? Haai dankie vir julle omgee. Ek hoop die hoogste vonnis moontlik word opgelê, en die plek word toegemaak. My hart breek

Christelle ·

Dit is regtig baie erg. Boerboele is sagmoedige lewendige teddiebere. Hoe kan iemand dit doen!!!

Pandora ·

Soos met alles in die land wat agteruitgaan, is die versorging van troeteldiere ook op die spel.
Dit sou beter bestuur kon word as beide telers en diere-eienaars soos in die ou dae lisensies moes betaal, en wette wat bepaal dat as jy nie ‘n teler is nie en daar is tewe en reuns op jou erf, dat hulle sterilisasie verpligtend moet wees.
Dankie aan die DBV wat hier ingespring en hierdie diere gered of verlos het van hulle haklige wrede bestaan. Mag die wat oorleef lieflike huise vind en die teler op ‘n swartlys geplaas word.

christo ·

Indien telers hulle , weens watter omstandighede is só ‘n posisie bevind, reik uit na die DBV en ander dierewelsynssorganisasies, vir hulp. Hulle sal graag help en hulp voorsien voordat dit in so ‘n krisis situasie ontaard. Plaas die diere se welsyn bo jou eie trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.