Verhoorafwagtende uiteindelik weer vas ná ontsnapping

(Foto: Unsplash)

Die polisie in Zaaiplaas buite Groblersdal in Limpopo het weer die 33-jarige Vusi John Mabona in hegtenis geneem ná hy verlede jaar September uit die polisie se aanhoudingselle ontsnap het.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê Mabona is Maandag in hegtenis geneem toe polisiebeamptes ʼn wenk ontvang het van ʼn lid van die gemeenskap. “Hy is in een van die hospitale in Mpumalanga opgeneem ná die gemeenskap hom ernstig aangerand het toe hy ʼn bejaarde vrou wou verkrag. Die polisie het vinnig reageer en die verdagte in die hospitaal in hegtenis geneem.”

Mabona het sy naam by die hospitaal verander om sy identiteit weg te steek. “Hy het op 5 September 2020 uit die aanhoudingselle ontsnap saam met ander verdagtes, wat op aanklag van verkragting en roof met verswarende omstandighede in hegtenis geneem is.” Mabona is aanvanklik in hegtenis geneem op aanklag van moord en verkragting. Die groep het ontsnap toe die beamptes besig was met roetinediens in die selle.

“Die polisie het die voortvlugtiges agternagesit en twee verdagtes vinnig aangekeer, maar Mabona het weggekom. Hy was voortvlugtig totdat hy Maandag weer aangekeer is.”

Hy sal na verwagting binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van ontsnapping, moord en twee aanklagte van verkragting.

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.