Verkeersbeamptes in hof oor omkoopgeld

Manoko Mashaba (links) en Clifford Ngobeni (Foto verskaf deur die Valke)

Twee lede verbonde aan die Mkhuhlu-rybewystoetssentrum in Mpumalanga het Dinsdag in die hof verskyn in verband met korrupsie.

Manoko Mashaba(51) en Clifford Ngobeni (47) is Maandag deur die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie in Nelspruit in hegtenis geneem. Daar is bevind dat hulle hulself vermoedelik aan bedrog skuldig maak het deur omkoopgeld te vra.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê Mashaba en Ngobeni is vrygelaat op borgtog van R15 000 elk. Hulle moet op 26 Februarie 2024 weer in die hof verskyn.

Die ondersoek duur voort.

Maroela Media het vroeër berig ʼn klaer het beweer dat sy op 8 Januarie na die Mkhuhlu-rybewystoetssentrum gegaan het om ʼn leerlingrybewystoets te skryf.

Sy het nie die toets geslaag nie, waarna ʼn vrou – wat toesig gehou het – haar genader en vir haar gesê het dat sy slegs gehelp kan word om die toets te slaag as sy R1 000 kan betaal.

Daar is ooreengekom dat sy weer ʼn afspraak maak om die toets te skryf, waarna sy ʼn afspraak vir Maandag [15 Januarie] kon kry. Die saak is by die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie aangemeld. Die klaer is as ʼn agent gebruik om die verdagtes vas te trek, het Sekgotodi vroeër gesê.

Die Valke het later bevind dat talle leerlingrybewysaansoekers vergoeding betaal het om die toets te kan slaag. Omkoopgeld van meer as R10 000 is in die verdagtes se besit gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie ·

Nou sien julle nou waar kom die ongelukke op ons paaie vandaan. Dis nie dronkbestuur nie dis mense wat die padreels nie nakom nie want hulle weet nie eers wat ‘n sperstreep beteken nie.

SjN ·

Ondersoek ook sommer die twee se kwalifikasies asb, dit is hoekom die ongeluksyfers so hoog is.

Niklaas ·

In ons stad het ons geen keuse gehad nie as om te betaal vir die beamptes nie. Ons dogters se rybewys toetse is 4 keer geskryf en 4 keer gedruip , al glo hul dat die punte wat behaal was besonder goed was en duidelik geslaag . Daar was vertroulik aan ons vertel dat R1500 per kind alle frustrasies en moeite soos mis voor die son sal laat verdwyn , wat waar was. Die slaagsyfer was toe net ‘n formaliteit . Beide is deurgans puik bestuurders. Ek het ‘n probleem met sukkelaar motor bestuurders wat idioties rondry op ons paaie en dan op so ‘n manier die lisensie bekom. Dis ‘n gevaar !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.